Maak jou wildste drome waar

313

Jy kies wat jy sien. As jy nie hou van wat jy tot dusver bereik het of wie jy is nie, moet jy dalk anders begin kyk.

Alles in die lewe gaan oor dit waarop jy fokus. Indien jy fokus op wat jy NIE wil doen nie, word dit jou uitkyk op die lewe. Fokus eerder op dit wat jy graag wil hê, of die persoon wat jy wil wees.

Jy kan kies hoe en wat jy sien

Ons gesin geniet dit om buite in die tuin te sit en gesels. Ek vra hulle een oggend: “Vertel vir Pappa wat julle sien.” Danielle, my dogter, vertel sy sien die dam, die eende, die grasperk, ons huis en die bome. Victor doen dieselfde en noem alles op wat hy kan sien. Hulle vra my toe: “Pappa, wat sien Pappa?”

My antwoord: “Ek sien wat julle sien, maar ek sien ook ’n besonderlike klaskamer vol engele wat ons soveel dinge wil leer. Ek sien ’n laboratorium vol insekte en klein diertjies. Ek sien om julle óf op ons, liefde vir mekaar en familie.” Albei het my in verwondering aangestaar.

Die volgende oggend ná ontbyt vra Danielle of ons weer buite kan gaan sit. “Sal Pappa my gou weer vra wat ek sien?” Sy begin vertel en ek is stomverbaas! Die glimlag en die vonkel in haar oë het boekdele gespreek.

As jy gereeld droom, word dit later jou werklikheid

Hoe meer ons kan droom, hoe meer kan ons hoop… en uiteindelik glo.  Geloof is in der waarheid om seker te wees van als wat ons hoop. As jy jou gedagtes fokus waarop jy hoop, sal dit paadjies in jou brein bou wat jou sal help om jou drome te bereik.

As jy jou visie en die aksiestappe wat jy glo jou sal help om daar te kom bepaal, moet jy aanhou om dit in jou geestesoog te “sien”. Oefen dit elke dag. Jou brein sal so gewoond raak daaraan dat dit uiteindelik ’n outomatiese proses word.

Die meeste van ons word van ons hoop beroof omdat ons na die realiteit kyk. Jy gaan skool toe en almal sê vir jou jy kán dit nie doen nie. Maats sê vir jou jy sal dit nooit regkry nie. Ons het so realisties geword dat ons vergeet om te droom.

Geloof is immers om seker te wees van wat ons hoop – ’n vaste oortuiging van dit wat ons nog nie kan sien nie.

Deel jou visie met ander mense

Ons gesin het die gewoonte om elke nuwe jaar saam te sit en ons hoop en drome met mekaar te deel en neer te skryf. Ons moedig mekaar aan om te sê: “Stel jou voor dít kan hierdie jaar gebeur!” Opwindende dinge… groot drome. Hoe meer jy glo, hoe vinniger word dit jou werklikheid.

As jy ’n visie vir die toekoms wil ontwikkel, gaan sit en verbeel jou al die wonderlike dinge wat jy graag in jou lewe wil laat waar word. Gesels met iemand daaroor. As jy dit hardop spreek, kan die ander persoon jou as’t ware daarvoor verantwoordelik hou. So daag ons mekaar uit om ons drome waar te maak.

Wanneer jou drome jou asem wegslaan, het jy geloof nodig. Dan begin jou avontuur om God se planne vir jouself te ontdek en te leef!

Jannie Putter, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling en sportsielkunde

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Jannie.

GELUKKIGE JY, GELUKKIGE GESIN aanlyn te koop op voelgoedboeke.co.za teen 60% afslag. R87 R219