Maak jy ’n berg van ’n molshoop?

0
275
adam_tas.png

’n Vrou se probleme voel soms soos ’n onmoontlik hoë berg wat geklim moet word. Mans verstaan nie altyd hoekom ons so lank kan stoei met ’n probleem nie. Adam Tas lig sy opinie.

Wonder jy partykeer hoekom jou vrou so lank vat om oor eenvoudige probleme te kom?

Hierdie voel soos ’n onderwerp wat my in die sop sal laat beland. Ek kry te doen met goeie boere-girls en hulle is probleemoplossers duisend. Daar is wel dié wat by ’n eenvoudige probleempie kan vashaak. Soms laat lê hulle die probleem te lank en dan kan ’n mens nie objektief daarna kyk nie.

Dink jy jou vrou ooranaliseer kwessies tot die molshoop soos ’n berg begin lyk?

Jong, my vrou kyk die kat altyd goed uit die boom. Maar hierdie ooranalisering van haar het my al baie keer gered. So, al is dit iets wat my kan irriteer, is ek baie dankbaar dat sy dit wel doen. Wat my die meeste pla, is dat sy dit doen as ons skaak speel. Die uitslag is nie altyd in my guns nie.

Wat gaan deur jou gedagtes as jou vrou dae lank oor ’n probleem tob?

Dieselfde wat gewoonlik deur my gedagtes gaan! Is die bier koud? Is daar genoeg hout? Dit veroorsaak soms dat my vrou nog meer omgekrap raak en kwaad bly (vir dae en weke). Maar ek verkies om nie meer laste saam met my te dra nie, dit maak my te swaar as ek moet hardloop om bo uit te kom.

Vroue is kompleks. Maak dit ons interessanter of is dit iets wat jou afsit?

Ek hou van kompleksiteit, dit is een van die aspekte wat my vrou vir my aantreklik maak. Ek weet nou nog nie hoekom sy in flieks huil nie, maar dit is deel van die wese van ’n vrou. Gelukkig is ek strategies so ontwerp, met breë skouers, juis vir so ’n situasie.

Dink jy mans is meer geneig as vroue om enige issue trompop te loop?

Ons is dalk eerliker en sal sommer met die groetslag vir mekaar sê: Jy het dik geword, of: Waar kry jy daardie lelike kar? Vroue sal dalk eerder stilbly, maar later, as dit onvanpas is, die klein rugsteekmessies swaai. Ek kan nie veralgemeen nie, maar dit is nogal opvallend onder party.

Voel jy soms magteloos omdat jou vrou se probleme haar onderkry en wil jy dan ingryp?

Sover ek weet, is vroue nie die brose blommetjies wat almal wil glo nie. My vroue (ma, suster, vrou, skoonma) is taai girls wat die hou op die kakebeen kan vat én uitdeel. Dit is mos hoekom mans daar is. Om in te gryp as sy moedeloos is en hulp nodig het. Ek is so grootgemaak.