Maak meer tyd vir mekaar in 7 dae

0
310
getroud.jpg

Verander julle daaglikse gejaagde pas en maak meer tyd vir mekaar in 2015 met hierdie sewedagplan.

Die basis van enige liefdesverhouding is vriendskap en die enigste manier om ’n vriendskap te behou is om tyd saam deur te bring. Gebruik hierdie nuttige sewedagplan om mekaar in 2015 weer beter te leer ken.

SONDAG: Gaan saam kerk toe

Natuurlik is dit belangrik dat julle kinders ook die Here saam met die gemeente moet aanbid, maar die fondament vir waardes en godsdiens begin by die ouers. Ons weet die versoeking is daar om op ’n Sondag laat te slaap en die kinders net Sondagskool toe te stuur. Die enigste manier waarop ’n egpaar mekaar egter op ’n geestelike vlak kan leer ken, is deur saam tyd met die Here te spandeer.

MAANDAG: Stap ’n entjie ná werk

Die redes waarom man en vrou nie tyd in mekaar se geselskap deurbring nie, is legio. Dit gebeur selde dat hulle op dieselfde tyd op dieselfde plek is. As jy moeg is, is die gedagte om nog ’n aktiwiteit in te werk, bloot uitputtend. Julle tyd saam hoef nie ’n ekstra item in julle oorvol program te wees nie. Verander dit eerder in ’n ontspanningsaktiwiteit wat julle saam kan geniet. Haal die blou uit julle Maandae deur net ’n entjie ná werk te gaan stap.

DINSDAG: Tyd vir ’n fliek of DVD

Om die een of ander rede het ons altyd tyd vir ander aktiwiteite, maar nie vir mekaar nie. As jy ’n gelukkige huwelik wil hê, moet jy jou voet dwars sit vir alle ander goed wat jou tyd opvreet. Date nights is beslis die moeite werd – ’n tyd sommer in die middel van die week wat julle opsy sit net vir julle twee. So ’n bederfaand hoef nie peperduur te wees nie. Dinsdagaande is vertonings by sekere filmteaters baie goedkoop. Maak van hierdie aanbod gebruik as julle die weelde het van iemand wat na die kinders kan kyk. Selfs al het julle nie ’n oppasser nie, kan julle Dinsdagaande steeds spesiaal maak deur ’n DVD uit te neem.

WOENSDAG: Maak ’n afspraak in die kombuis

’n Maklike manier om tyd vir mekaar te kry is om saam iets te doen wat in elk geval gedoen moet word. Kosmaak is een van daardie moontlikhede. Al is jy nie die volgende Kokkedoor nie, is die moeite wat jy met ’n ete doen amper soos om ’n liefdesbrief vir jou maat te skryf. Maak Woensdae ’n tyd wat julle saam in die kombuis deurbring. Skink ’n glasie wyn en maak saam kos.

DONDERDAG: Kry ’n stokperdjie of gedeelde belangstelling

As nie een van julle ’n eier kan kook sonder dat dit op ’n ramp uitloop nie, kan julle saam kooklesse neem. Dit is seker al holruggeryde raad, maar om aktief saam met ’n stokperdjie besig te wees, gee julle die kans om oor ander goed te kommunikeer as net die kinders en take wat gedoen moet word. Bowendien is dit vir mans baie makliker om oor hulle gevoelens te praat as hulle hande besig is met iets. Maak Donderdagaande julle stokperdjieaand. Julle kan danslesse neem en die tango leer dans.

VRYDAG: Leer mekaar beter ken deur musiek

Vrydagaande is nou die één aand waarop julle gerus julle selfone en epos kan afskakel. Die kinders kan ook maar later gaan bad. Maak die laaste aand van die week ’n musiekaand waar julle beurte maak om julle gunstelingmusiek vir mekaar te speel. Elke mens het ervarings en stories wat aan sekere stukke musiek gekoppel word. Deel hierdie herinneringe met mekaar en vind dinge omtrent jou maat uit wat jy nooit sou kon raai nie.

SATERDAG: Kuier saam met familie en vriende

Gebruik naweke om tyd as ’n paartjie en gesin saam deur te bring. Kry miskien ’n gebruik soos om Saterdagoggend brunch op die stoep te eet, saam met vriende rugby te kyk of ’n speletjiesaand te hou.

Alhoewel julle verhouding as ’n egpaar belangrik is, is dit ook nodig om as ’n eenheid tussen ’n groter groep mense te funksioneer. Hierdie samehorigheid skep ’n span-gevoel, wat onontbeerlik is vir enige huwelik.

Ons weet tyd is kosbaar, maar ’n gelukkige huwelik is kosbaarder. Gebruik hierdie idees en begin vandag nog om meer tyd saam met die liefde van jou lewe deur te bring. Verwerk en vertaal na aanleiding van ’n artikel You have to make time for each other deur Dana Fillmore.