Maak moeilike mense jou moeg?

0
525
moeilike_mense.jpg

Ons leef elke dag saam met hulle: daardie onredelike mense wat oor alles ’n eiertjie lê. Maar dis nie nodig dat hulle jou dag omkrap nie. Jy kan leer om die boelies lag-lag te hanteer.

Jy kry hulle oral: by die huis, by die werk, by die kerk … Dis die mense wat hulle skynbaar daarin verlustig om jou af te jak. Jy kan volgens hulle nooit iets reg doen nie. Dis dalk tyd dat jy jou man (of vrou) staan en hulle konfronteer.

Die goue reël is egter om altyd twee keer te dink (en tot tien te tel) voor jy iets sê wat kon gebly het. As jy jou bloedig vir iemand vererg het, moet jy dalk eers êrens gaan afkoel voor jy met haar praat. Bly in beheer van die situasie, anders vererger jy dit net. Hoe kalmer jy is, hoe beter sal jy die saak kan hanteer.

Wees diplomaties en besluit altyd eers of ’n situasie ernstig genoeg is voor jy iemand sommer aanvat. Sommige mense is nou maar eenmaal negatief. Is dit regtig die moeite werd om jou kosbare tyd en energie op ’n kleinigheid te mors?

Daar is ook tye dat jy verleë is oor iemand en maar die gedrag moet aanvaar: Jy skakel byvoorbeeld ’n maatskappy se kliëntediensafdeling. Die verteenwoordiger is ongeskik. Dit sal jou egter niks in die sak bring om haar op haar plek te sit nie, want jy het haar nou nodig; sy het tydelik die mag oor jou. So, tensy jy wil aflui en weer aanhou vir ’n ander verteenwoordiger, sal jy maar diep moet asemhaal en kalm bly.

Jy het dalk ’n beterweterige kollega wat jou geduld tot die uiterste beproef. Hoewel jy nie van haar hou nie, help sy jou baie omdat sy goed is met sekere dinge waarmee jy gewoonlik sukkel. Daarom is dit beter om haar liewer nie te konfronteer nie. Onthou, moeilike mense het ook goeie eienskappe.

As jy besluit dis tóg nodig om op te tree, kan jy ons wenke gebruik om met die knorpotte af te reken.

Moenie altyd alles so persoonlik opneem nie

In plaas van om op jou perdjie te klim en die suurpruim summier aan te vat, moet jy eerder leer om ’n bietjie terug te staan en op ’n afstand na die situasie te kyk. So kan jy al jou energie gebruik om die probleem te probeer oplos. Probeer om perspektief te kry deur aan ten minste twee moontlike redes vir iemand se optrede te dink.

Elke mens het redes waarom sy sekere dinge doen. Almal het hulle eie issues. Dit gaan meestal nie oor jou nie. Moet dus nie elke opmerking persoonlik opneem nie, dan sal daar nie so maklik misverstande ontstaan nie.

[pagebreak] Jy kan ook probeer om jouself in die moeilike mens se skoene te plaas, al is dit net vir ’n oomblik. Dink aan haar omstandighede en voltooi die sin: “Dit kan nie maklik wees … nie.” So kan jy byvoorbeeld sê: “My tiener is alewig op haar perdjie. Dit kan nie maklik wees om soveel druk by die skool te hê nie.”

Jy verskoon nie die onaanvaarbare gedrag nie; jy is net meer objektief omdat jy groter begrip vir elkeen se situasie het.

Skei ook altyd die persoon van die saak. Wees sag met die persoon en fokus op die knelpunt, dan sal sy makliker aanvaar wat jy te sê het. As jy ferm is met die saak, dan wys dit dat jy probleme kan oplos. Jy kan byvoorbeeld sê: “Ek wil graag hoor wat jou pla, maar ek kan dit nie doen as jy so skree nie. Kom ons sit en praat kalm daaroor, of anders moet ons later weer probeer as ons rustiger is.”

Sit kwaai boelies deeglik op hulle plek

Aggressiewe mense vestig graag die aandag op jou en probeer om jou ongemaklik of onbevoeg te laat voel. Hulle sal gewoonlik vir jou sê daar is iets fout met jou of hoe jy dinge doen.

So iemand wil jou domineer en gee nie om of probleemkwessies opgelos word nie. As jy op die verdediging is, gee jy haar net meer skietgoed teen jou. Die beste manier om die situasie om te swaai, is om háár in die kollig te plaas. Jy kan dit doen deur konstruktiewe, indringende vrae te vra.

Gestel jou hoof is, soos gewoonlik, nie tevrede met jou voorstel nie. Jy kan vra of sy goed besin het oor presies wat sy wil hê. Sy is nou die een wat moet verdedig. As sy jou verder persoonlik afkraak, kan jy rustig sê sy moet besluit of sy wil hê julle moet die gesprek liewer beëindig.

Normaalweg sal twee persone beurte maak om ’n gesprek te lei. Maar boelies wil altyd die leiding neem en sal oor en oor net op negatiewe dinge hamer. Probeer om in so ’n geval die gesprek in ’n heeltemal ander rigting te stuur.

Die belangrikste ding om te onthou is dat boelies altyd op mense pik wat swakker lyk as hulle. As jy dus passief bly en toegee, is jy eintlik ’n maklike teiken. Die meeste boelies is lafaards, so, die oomblik dat jy opstaan vir jou regte, sal hulle jou liewer uitlos en ’n makliker prooi gaan soek.

Moet net nooit ’n aggressiewe persoon alleen konfronteer nie; sorg altyd dat daar ander mense by is as getuies en om jou te ondersteun.

DEEL
Vorige artikelMadiba sterf
Volgende artikelGod bly belangrik
Voelgoed
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.