Maak sin uit jou wildernisdae

144

Voel jy vasgekeer deur jou omstandighede? Wonder jy: “God, waar is U?” Miskien het God nog altyd met jou gepraat, maar nou is sy stem stil. Welkom in die wildernis – die plek waar jy reeds God se belofte vir jou lewe ontvang het, maar nou wag jy dat dit bewaarheid word. –John Bevere

Namate babas groter word, help ons hulle al hoe minder om hulle aan te moedig om toenemend te ontwikkel. God doen dieselfde met ons sodat ons geestelik kan ontwikkel en volwassenheid kan bereik.

Wanneer ons pas wedergebore is en met die Heilige Gees vervul is, is Hy ’n seisoen lank by ons elke keer wanneer ons roep. Maar namate die tyd aanstap – en hopelik vorder ons verby die stadium waarin ons net melk kan drink (sien Hebreërs 5:12) – laat Hy ons tye beleef waarin Hy nie onmiddellik reageer wanneer ons roep nie, sodat ons kan groei en volwassenheid kan bereik.

Toe die Here my gehelp het om te verstaan dat groei tot geestelike volwassenheid baie soos die proses is waarin elke mens van kinderjare tot volwassenheid moet groei, het ek weer daaroor gedink en gewonder:

Was ek miskien verkeerd? Is die dinge wat ek ervaar dan nie ’n straf van die Here nie? Word ek miskien die woestyn in gelei om iets te leer – om op die een of ander manier te groei om beter toegerus te word om Jesus te volg en te dien?

Toe onthou ek dit is presies wat met Jesus gebeur het. Amper onmiddellik nadat Johannes Hom gedoop het, is Jesus deur die Heilige Gees na die woestyn gelei. Dit was nie ’n teregwysing nie, en Hy het definitief geen sonde gedoen nie.

So het die gedagte my uiteindelik in my selfbejammering getref: Miskien is hierdie woestyn-ervaring nie so aaklig as wat ek gedink het nie.

As ons soos Jesus wil wees, moet ons karakter ontwikkel. En die woestyn is tot ’n groot mate die plek waar dit moet gebeur. Dikwels, terwyl ons daar is, voel dit asof die Here myle ver weg en asof sy beloftes leeg is. Maar dit voel net so; dit is nie die werklikheid nie. Hy is inderdaad daar, want Hy het belowe dat Hy ons nooit sal los, nooit in die steek sal laat nie (sien Hebreërs 13:5).

Die woestyn is ’n tyd waarin dit voel asof jy in die teenoorgestelde rigting as jou drome beweeg, en van God se beloftes waarvan jy voorheen so seker was. In die woestyn het jy geen gevoel van geestelike groei en ontwikkeling nie. Om die waarheid te sê, jy voel asof jy agteruitgaan. Dit is asof God se teenwoordigheid minder word, eerder as om te groei. Jy voel miskien selfs asof Hy jou nie liefhet nie en jou ignoreer. Maar dit is nie so nie.

Die woestyn is in der waarheid ’n gemeenskaplike bestemming vir opregte volgelinge van Christus – al voel jy baie alleen terwyl jy daar is. Die waarheid is dat die woestyn ’n noodsaaklike bestemming is vir elke kind van God.

Om as ’n dissipel van Jesus tot gesonde volwassenheid te vorder, sal jy miskien verskeie reise deur die woestyn moet aflê.

Ek wens ek kon vir jou sê dat jy op Google Maps ’n roete kan kies wat ’n kortpad deur of ’n ompad verby hierdie dorre plek sal aandui, maar daar is nie een nie.

En dit is ’n goeie ding, want die reis deur die woestyn – ons aanvaarding van hierdie tydperk of seisoen – is noodsaaklik as ons by ons Beloofde Land wil uitkom!