Maak tyd vir gesels

0
81
gesels

Die lewe is besig en ons kan nie bloot reageer op mekaar se behoeftes nie. Ons moet bewustelik betrokke wees in ons huwelik en kies om sinvol met mekaar te gesels.

Die lewe is besig en ons kan nie bloot reageer op mekaar se behoeftes nie. Ons moet bewustelik betrokke wees in ons huwelik en kies om sinvol met mekaar te gesels.

“Dit is baie belangrik dat jy in jou man se emosionele bankrekening belê,” sê dr. Callie Hugo, ’n sielkundige van Pretoria. “As jy elke dag iets onttrek, maar niks terugsit nie, sal die bankrekening later leeg raak. As hy nie gereeld hoor wat hy vir jou beteken nie, gaan hy doodgewoon emosioneel bankrot raak.”

Wat is ’n man se mening oor kommunikasie?

Hy sê: “Toe ons pas getroud was het my vrou my soos ’n koning laat voel. Deesdae voel dit vir my asof ek net sowel ’n kombuisstoel kan wees.”

Wat jou man wil hoor

Daar is vyf dinge wat elke man van sy vrou wil hoor en wat kan help om julle huwelik gesond en sterk te hou. Neem ’n wilsbesluit om hierdie goed gereeld vir jou man te sê, al is dit met jou lyftaal en gedrag:

“Praat met my – ek luister!”

In ons gejaagde wêreld het baie mense verleer om met mekaar te gesels, maar die bloed van enige verhouding is goeie kommunikasie. Veral mans lyk dikwels asof hulle nie wil praat nie, maar hulle het dit nodig al sal hulle dit nooit erken nie. Eintlik wil hulle gehelp word om te praat – en dit kan net gebeur as hulle iemand het wat goed luister. Dít behels meelewing, empatie en om jou wêreld met ’n ander persoon te deel. As vrou is jy die veilige ruimte waar jou man van sy emosies ontslae kan raak as jy onvoorwaardelik luister en nie afgeskrik raak nie. As hy nie ontlaai nie, lei dit tot opgekropte gevoelens wat julle huwelik negatief kan affekteer. Baie van hierdie frustrasies het hulle oorsprong in die kinderjare, maar deur iemand te hê by wie hy kan aflaai, kan hy genesing vind.

“Kom ons gaan Saterdag rugby toe.”

As mans ervaar dat hulle primêre behoeftes binne die huweliksverhouding aangespreek en ernstig opgeneem word, kom hulle tuis in die verhouding. Dit is dus belangrik om te weet wat jou maat se behoeftes is en om dit te help bevredig. As jy jou man heeltemal sou weghou van die goed waaraan hy ’n behoefte het, of hom nie daarin ondersteun nie, kan hy begin om hierdie dinge buite die huwelik te soek. Kry gedeelde belangstellings; gaan saam met hom Loftus toe (al is rugby nie jou gunsteling nie) of kry interessante boeke wat julle albei geniet. So groei julle saam.

“Die kinders slaap vanaand by oupa en ouma …”  

Mans sal nie hulle verbintenis verloor as hulle elke dag verras word nie. Dink aan 101 maniere om jou man gelukkig te maak. Van seks tot ’n briefie in sy aktetas. Dis ongelooflik belangrik, want in ’n roetine-wêreld, soek baie mans bietjie afwisseling – en dis soms waar dinge skeefloop. Verrassings of spesiale goedjies keer dat mense by mekaar verby leef.

“Wat doen ek wat jou ongelukkig maak?”

Laat jou maat ’n lysie maak van goed wat hom frustreer, luister daarna en pas aan daarby, omdat jy sien dis vir hom belangrik. Dit beteken soms dat jy jou eie grense moet rek en ’n mens moet baie volwasse wees om dit te kan doen. Die idee is nie om jouself in die proses te verloor of te benadeel nie, maar om moeite te doen om die verhouding te verbeter deur aanpassings te maak. Liefde is harde werk. Dit is ’n bereidheid om opofferings vir jou verhouding te maak sodat dit kan groei.

“Dankie dat jy …”

Daar is niemand in die wêreld wat dit nie waardeer as jy vir hulle dankie sê nie. Dit is belangrik om dankie te sê vir die klein dingetjies wat hy elke dag doen en wat meestal ongesiens verby gaan. “Dankie dat jy die kinders gaan aflaai het, dankie dat jy vir my koffie in die bed gebring het, dankie dat jy die gloeilamp vervang het.” Dankie is ’n klein woordjie wat groot dinge kan vermag.
 

Shanda Luyt