Maak vrede met die dood

556
maak vrede met die dood

Die dood is die één ding wat niemand gaan vryspring nie. Gelowiges hoef egter nie bang te wees nie. Maak vrede met die dood sê Isak Burger.

Die dag waarop jy sterf, is nie bepaal nie

Sommige mense sê: “As jou tyd gekom het, het dit gekom. As jy nie sterf aan kanker nie, sal ’n dronk man jou omry.”

Party glo elkeen se sterfdatum is al by geboorte of selfs voor geboorte bepaal. As jy die dag by daardie punt kom, is dit verby met jou, ongeag wat jy doen of hoe jy leef.

Die dood is ’n ongoddelike mag wat aan die kruis oorwin is.

Maar God is lewe. Dit beteken dat Hy mag daaroor het en dit ook in Sy diens kan gebruik.

God is en bly steeds in beheer

God is almagtig. Maar Hy is nie die enigste bepalende faktor in hierdie wêreld nie. Satan en mense self kan besluite neem wat nie ooreenstem met Sy volmaakte wil nie.

Natuurlik is daar gevalle waar Hy ’n ramp, ongeluk of die dood gekeer het. Tog is daar ander gevalle waar Hy nié ingegryp het nie.

Die misterie is dat mense sterf. En dat dit nie (altyd) gekeer word nie.

Onthou, die dood van ’n gelowige is in die “groter prentjie” – nie die einde nie. Dis die deurgaan na die eintlike, ewige, volmaakte lewe saam met Hom.

Om vrede te maak met wat gebeur het

Daar is nooit ’n botsing tussen God se volkome mag en Sy volmaakte wil nie. Hy doen wat reg is, op die regte tyd.

Die woorde “as dit U wil is” kan in ’n oppervlakkige gebed as stopwoorde of as ’n rookskerm vir ongeloof gebruik word.

Jy bid dit wanneer die pad voor jou donker is.

Wanneer jy klein en swak voel. Wanneer jy besef dat jy dit nie alleen gaan maak nie.

Ná die dood van ’n geliefde moet ons aanvaar dat dit toegelaat is as deel van die groter prent.

Hoe ’n gelowige rou, sê iets van haar geloof

Dis nie moeilik om vrolik te wees as dinge reg uitwerk nie. Om sonder bitterheid deur die lewe te gaan as niemand jou nog ooit seergemaak het nie.

Daar kom tye wanneer dit “normaal” sou wees om te knak onder die pyn en hartseer. Woede na iemand se dood is normaal, want jy is “ook maar net vlees en bloed”.

Dis in sulke tye dat ons getuienis saak maak. So sal ander mense besef dat Christene “iets” het wat hulle nié het nie.

Ons hartseer en trane oor ’n geliefde doof nie ons hoop uit nie.

Wees rustig, jou geliefde is nou veilig

Regdeur die lewe is die engele besig om Sy kinders te beskerm. Enige probeerslag van die vyand om ons in die laaste oomblikke van ons lewe te “kaap”, sal misluk omdat die engele ook daar by ons is.

Binne vyf minute ontdek gelowiges wat sterf dis nie die einde nie, maar die deurgang na die eintlike lewe. Die heerlike toestand, die plek van volkome rus en vrede, by Jesus.

Daar is geen duiwel, boosheid, sonde, siekte, hartseer, teleurstelling, trane, pyn, gejaagdheid, of afskeid nie…

Jou geliefde wat gesterf het weet, reeds dis waar!

SKRYF IN vir ons AANLYN KURSUS
(vir jou foon, tablet en rekenaar)
Maak vrede met die dood, Isak Burger
R174 R249
leesleerleef.co.za