Maak vrede met verspeelde kanse

0
176
spyt.jpg

Ons almal het goed waaroor ons spyt is, goed wat ons wens ons vroeër geweet het, mense wat ons te na gekom het … Maar deur jouself daaroor te verwyt, gaan jou nie jonger laat voel nie.

’n Duitse studie het getoon dat mense ouer as 65 jaar wat verspeelde kanse as deel van die lewe sien, gelukkiger is as dié wat oor en oor daaroor dink.

Ons het sielkundige Christelle Vermeulen gevra hoe jy oor dinge kom wat kon, moes of sou gewees het.

VRAAG: Hoe begin jy jouself vergewe vir kanse wat jy deur jou vingers laat glip het?

ANTWOORD: Gaan dink eers presies oor wat jy kon gehad het, wat jy verkeerd gedoen het of watter verkeerde keuse jy gemaak het. Jy kan nie iets laat gaan as jy nie weet presies waaroor jy spyt is nie.

VRAAG: Maar gaan jy nie slegter voel as jy heeltyd dink oor dit wat jy verloor het nie?

ANTWOORD: Dis nodig om dinge in perspektief te sien. As jy vyf jaar later terugkyk, weet jy dit was die verkeerde keuse, maar in daardie stadium het jy gedoen wat jy gedink het die beste was. Maak vrede daarmee.

VRAAG: En dan?

ANTWOORD: Dit help soms om met iemand daaroor te praat. Gaan gesels met ’n vriendin en vertel haar waaroor jy spyt is. Sy sal haar sekerlik met jou situasie kan vereenselwig of haar eie storie kan vertel. Om jou spyt met iemand te deel, gaan dit nie wegvat nie, maar om dit te deel en te weet ander mense het dieselfde “foute” gemaak, kan ’n bietjie troos bring.

VRAAG: Hoe gemaak om nooit weer spyt te wees nie?

ANTWOORD: Ons is nie gevrywaar teen verkeerde keuses of spyt nie, maar wanneer jy volgende keer voor ’n groot besluit te staan kom, raak rustig, haal asem, en luister na jou lyf en jou instink.