Madeleine du Preez

0
21
madelein.jpg

Ek het geleer … … Dat selfvergifnis jou lewe kan verander

OUDERDOM  38

EETPLAN  Weigh-Less

LENGTE  1.63 m

GEWIG  70.5 kg (was 81.3 kg)

VETPERSENTASIE  30.7 (was 38.5%)

Vanaf die eerste dag as deel van hierdie program, wou ek baie eerder ’n innerlike makeover as ’n uiterlike een hê. Ek onthou dat ek aan die begin van 2011 op my e-pos rondgespeel het, en langs my naam geskryf het, ’n nuwe ek. Ek het sommer begin huil, want die begeerte binne my om nuut te word was so sterk, maar terselfdertyd het ek myself dit nie gegun nie. Ek het soveel verwyte en skuldgevoelens saam met my rondgedra. En hoewel ek al oor en oor vir God om vergifnis gevra het, kon ek myself net nie vergewe nie. Watter ma en vrou verlaat haar gesin … Al was dit net vir ’n ruk? Maar deur die loop van die program het ek besef ek kan nie teruggaan en my verlede verander nie, al wil ek ook hoe graag. Ek kan net sê ek is jammer en dan aanbeweeg. Op my knieë het ek om vergifnis gesmeek. En nou was dit tyd dat ek myself ook moes vergewe. Stukkie vir stukkie het ek die skuldgevoelens laat vaar. Ja, ek het foute gemaak, maar ek het daaruit geleer. Ek kyk nie meer terug met spyt en verwyte nie. Die verlede kan my nie meer seermaak nie, dis verby en ek is klaar daarmee. Van nou af kyk ek vorentoe.  

Die sielkundige sê

Madeleine se selfvergifnis was iets waaraan sy hard moes werk, maar sy kon dit regkry om die verlede agter haar te sit. Die volgende ding wat sy moes aanvat, was om te glo dat sy goed genoeg is. Sy het nog altyd gewerk vir goedkeuring en het mislukking verwag. Dinge het nou verander. Deesdae sien sy haarself in ’n beter lig en weet dat sy op haar unieke wyse ’n bydrae in haar werk kan maak. Sy het selfs onlangs ’n verhoging gekry.  

My swakplek was … Rooiwyn

Ek drink nou water! In die eerste uitgawe het ek vertel dat ek mal is oor rooiwyn. Ek drink dit nog steeds en geniet dit! Maar my hoeveelheid glasies het beslis verminder. Ek is ook nou ’n “water” meisie en na elke glas rooiwyn drink ek twee glase water! Water is beslis goed vir my spysvertering en saam met die Probiflora aanvullings voel dit of my liggaam beter funksioneer.