Maerword is pret met ’n hoepel

0
111
sandi_schultz.jpg

Vergeet die idee dat jy moet bloed sweet om gewig te verloor. Dis maklik, en pret met ’n hoela-hoepel!

Elke keer as aktrise Sandi Schultz (50) die hoela-hoepel optel, voel sy weer soos ’n kind. Dis baie moeilik om hierdie oefeninge te doen sonder om te glimlag, vertel sy.

Enigiemand kan met ’n hoepel oefen

Toe ek 14 jaar gelede die eerste keer probeer het om te hoela-hoela, het die hoepel skaars twee keer om my lyf gedraai voordat dit die grond getref het. Ek was by ’n buitelugpartytjie sowat twee uur buite Los Angeles toe ek ’n vrou op ’n afstand sien wat op haar eie hoela-hoela. Ek het haar gevra hoe om dit te doen, maar wou dadelik moed opgee toe ek dit nie regkry nie. Die vrou het my gewys hoe om te staan en hoe om my heupe te wikkel. Vyf uur later was ek steeds daar. Sy het my ook geleer om met groter en swaarder hoepels te oefen. Die ekstra gewig van die hoepel maak dit makliker om die momentum van jou draaibewegings te behou.

Die oefening gee jou toestemming om weer te speel

Daar is iets omtrent ’n hoepel wat jou bemagtig om weer pret te hê soos ’n kind. Sodra jy hooked is, raak dit ’n uitdaging: Jy probeer nuwe toertjies baasraak en wil elke keer beter word. Daarby kan jy heeltyd oor begin; elke keer wat die hoepel val, is nog ’n kans vir sukses. Dit is ook uitstekende kardiovaskulêre oefening en fokus op die spiere in jou bolyf, maag, sitvlak en rug.

Oefen op maat van musiek

Ek hoela-hoela omtrent elke dag op my eie by my naaste gym. Dis so lekker om op die maat van musiek te oefen; ek luister musiek op my selfoon en prop dit soms sommer in die dik haarband wat ek om my kop bind. In die gym dans ek gewoonlik en doen baie salsabewegings, waar ek heeltyd in die rondte draai. Wanneer ek by die huis TV kyk, gryp ek ook dikwels my hoepel en oefen. Dan staan ek stil en swaai die hoepel heeltyd in teenoorgestelde rigtings. Ek kombineer dit ook met ander oefeninge, soos squats of lunges. Voor ek my oë kan uitvee, het ’n uur verbygegaan. Die musiek gekombineer met die ritmiese dansbewegings het ’n amper hipnotiese effek.

Ek het geleer van watter kosse my liggaam hou

Aan die begin van verlede jaar het ek aan die reeks Vallei van Sluiers gewerk. Toe ek myself in ’n stadium op een van die skerms sien, was ek geskok oor hoeveel gewig ek aangesit het. Ek het besef ek moet my leefstyl drasties verander. Deesdae volg ek die beginsels van die Dukan-dieet en leef van kosse wat laag in vet en koolhidrate is, soos jogurt en enige soort groente. My lyf hou nie van koolhidrate nie, want die oomblik dat ek te veel stysel eet, sien ek ’n verandering op die skaal. Ek is gelukkiger in my lyf; ek voel ligter en het meer energie. Ek verwag beslis nie dat ek ooit dieselfde gaan weeg as in my 30’s of selfs 40’s nie, maar ek wil seker maak my liggaam is gesond en fiks genoeg om my deur die volgende 30 jaar te dra.

Kyk hierdie oulike video waar Sandi vir ons wys hoe sy hoela-hoela.