Mag mens meer en beter goed begeer?

868

Watter vrou is nie gaande oor ’n nuwe paar skoene of iets moois vir die huis nie? Maar wat as mens besit word deur jou besittings?

Of dit nou die nuutste slimfoon, motor of rekenaar is, die idee van ’n vinniger, mooier, varser produk het die wêreld op hol. Dit laat ’n mens wonder: Wat moet kerkmense se houding teenoor rykdom en besittings wees?

’n Verbruikersmentaliteit of consumerism is volgens Wikipedia ’n sosiale en ekonomiese bestel wat die aankoop van al hoe meer goedere en dienste aanmoedig. Anders gestel, dit is die selfsugtige en oppervlakkige bymekaarmaak van geld en goed.

Daar bestaan ook iets soos gesamentlike verbruik. Rachel Botsman het by ’n TED-konferensie gesê dat die mens bedraad is om te deel. Sy het die webtuiste van Swaptree, waar jy enige artikel vir iets anders kan verruil, as voorbeeld gebruik. As jy te veel wit olifante opgegaar het, kan jy dit hier omruil vir iets anders. Dit wat jy geglo het jy laas nodig gehad het, kan nou omgeruil word vir dit wat jy dink jy nóú nodig het.

Barry Schwartz, ’n sielkundige, het dit van ’n ander kant af benader. Hy meen die feit dat ons soveel keuses het, kan ons nog meer verlam in plaas van om ons vry te maak. Dit maak ons nie gelukkiger nie, maar meer ontevrede.

Leo Babauta is aan die stuur van The Minimalist blog en aanlyn tydskrif. Hy meen dat die meeste van ons ’n behoefte het om oulike goed te koop. Hierdie behoefte spruit uit ons vrees en onsekerheid.

Dit word natuurlik deur adverteerders uitgebuit. Die doel van advertensies is om verbruikers meer te laat begeer sodat hulle meer sal wil koop. Omdat dit so goed werk, koop mense dan baie meer as wat hulle eintlik nodig het.

In ’n onderhoud met Simon Dingle van 22seven skryf Lourensa Eckard van Beeld die volgende: “Dit maak nie saak hoe baie geld jy verdien nie, daar is baie mense wat sal seker maak dat jy dit alles uitgee. Bemarkers weet presies watter knoppies om te druk. Daar word vir ons ’n prentjie geskets van ’n werklikheid wat vir ons wag sodra ons ’n bepaalde produk koop.”

Dit is presies hoekom mense net ná ’n verhoging gou weer finansiële probleme ondervind en elke maand al hulle geld uitgee.

Vanaf kloosters vir ware vromes tot hardwerkende Protestante

Regdeur die eeue worstel gelowiges nog altyd met hierdie kwessie. Jakobus se afkeer van rykdom deur die loop van sy brief is vroeg-vroeg as ’n verwerping van enige vorm van welvaart verstaan.

Ook Johannes se waarskuwing om die “sondige wêreld” en al sy begeertes te systap (1 Johannes 2:15-17) is met besittings en materiële dinge verbind. Daar is geglo dat ware heiliges dié was wat in kloosters en woestyne gaan bly het om te ontsnap van die verleidings van die wêreld. ’n Leefstyl van eenvoud en armoede was die ideaal wat gelowiges moes nastreef.

Rooms-Katolieke wat hulle van die wêreld wou losmaak, het hulle toevlug in kloosters gesoek. Protestante, aan die ander kant, het geglo hulle moes hard werk, maar terselfdertyd eenvoudig en sonder uitspattigheid leef.

Max Weber, een van die vaders van die moderne sosiologie, het die term “Protestantse werksetiek” geskep in sy boek, wat later uit die Duits in Engels vertaal is: The Protestant Ethic and the Spirit of Capitalism.

Hierdie etiek kry ons van die eerste generasies Protestantse gelowiges wat deur harde werk bo uitgekom het. Hulle mag egter nie te veel van die swaarverdiende geld aan hulleself bestee het nie. Enige uiterlike vertoon van rykdom was verbode.

Later het die kinders van die eerste Protestante, wat nie meer dieselfde waardes as hulle ouers gehad het nie, hierdie opvattings verwerp. Hulle het kapitalisme en die private besit van geld en goedere aangegryp. Die idee dat materiële dinge welvaart skep en jou gelukkig en suksesvol maak, het posgevat.

Bemarkingsmaatskappye en die media buit natuurlik hierdie ingesteldheid uit en voer dit met visuele beelde en gehoorstrelende advertensies oor die radio. Hulle skep aanhoudend nuwe behoeftes en lok jou uit om alles te koop waarna jy smag. Na elke seisoen is daar ’n uitverkoping om plek te maak vir die nuutste must-haves van die volgende seisoen.

Ons kan net nie wegkom van advertensies af nie. Studies toon dat Suid-Afrikaners ongeveer vyf uur ’n dag aan tradisionele media blootgestel word – gedrukte media, radio en TV. Vir ’n verdere sewe uur ’n dag word ons deur ons rekenaars en slimfone aan digitale media blootgestel.

Die voorspoedteologie teenoor die nuwe eenvoudsoekers

Dit lyk asof gelowiges gedurig op ’n hoogspanningsdraad loop as dit oor geld en besittings gaan. Daar is talle uiteenlopende sienings oor besittings en hoe dit gebruik moet word.

Onthou, geld is abstrak. Een van die redes waarom ons dit so vinnig uitgee, is dat ons dit so gou moontlik in iets bruikbaars wil omskep. Ons wil hê dit moet vir ons “werk”.

Tod Engstrom skryf in sy artikel What is Consumerism? dat ons onsself definieer deur wat ons koop. Wat voorheen dalk ’n basiese behoefte was, het nou ’n identiteit geword. Kos is nie meer ’n manier van oorleef nie, maar het ’n troos geword. Klere beskerm nie ons lywe nie, maar is ’n statussimbool. En ’n huis is nie meer ’n skuiling teen die elemente nie, maar ’n plek van vermaak.

Aan die een kant kry ons die voorstanders van die voorspoedteologie. Hulle het ’n siening van “health and wealth,” of “name it and claim it”.

Die voorspoedteologie is wêreldwyd baie gewild. Dit word maar net in verskillende vorms verpak, maar die basiese uitgangspunt is dieselfde: God skuld Sy (gehoorsame) kinders materiële voorspoed, besittings, gesondheid en ander tasbare seëninge.

Jesus se lewe van armoede word vervang met die idee van ’n suksesvolle, skatryk Messias. Daarom moet Hy die lewenskwaliteit en verbruikersmentaliteit (!) van Sy navolgers in stand hou en verhoog. Armoede is volgens die voorstanders van hierdie teologie selfs ’n bewys van ongeloof en sonde. Dus, as dit nie op alle gebiede met jou goed gaan nie, dan is jy nog nie gehoorsaam genoeg nie!

Daar is egter ook ’n nuwe soort monastieke leefstyl wat onder baie gelowiges posvat. Mense soos Shane Claiborne met sy New Monasticism Movement is voorlopers van hierdie leefstyl.

Op verskillende maniere gee hierdie bewegings uitdrukking aan mense se behoefte aan eenvoud en vryheid van aardse besittings. Dis glad nie vreemd dat baie gelowiges aanklank vind by retreats en pelgrimstogte nie. Die Mosaïek Gemeente het selfs hulle eie retreat-sentrum naby Krugersdorp, met ’n voltydse geestelike mentor of instrukteur wat pelgrims en besoekers begelei.

Wat sê die Bybel oor geld en besittings?

Hierdie uiteenlopende sienings lei tot verskillende opinies. In Kerkbode van 16 Augustus 2013, die koerant van die NG Kerk, skryf die bekende ekonoom, Dawie Roodt, oor sy “weersin in ons godsdienstige waardes”.

Hy sê dat hy glad nie saamstem met die idee (wat hy as kind in die kerk gehoor het) dat Christene nie mag ryk wees nie en al hulle besittings moet verkoop. Volgens hom is dit baie gevaarlik om so te dink omdat dit armoede aanwakker en alle besigheidsmense as geldgierig en boos afmaak.

Tog is besittings op sigself nie verkeerd nie. Nêrens vra Jesus onvoorwaardelik van al Sy volgelinge om alles wat hulle het, te verkoop en in armoede te leef nie.

Hy vra dit wel van die ryk jongman in Matteus 19, maar verwag glad nie dieselfde opoffering van die rykste sakeman met wie Hy te doen kry nie. Die hooftollenaar, Saggeus, was ’n miljoenêr in vandag se taal.

Tog verstaan Saggeus dadelik na sy bekering dat sy besittings nou ’n middel tot ’n diens is en dat vrygewigheid die nuwe wagwoord in sy lewe is. Daarom kies hy om van daardie dag af die helfte van sy goed weg te gee vir mense wat dit nodig het.

Dieselfde gebeur met Barnabas, ’n ander suksesvolle sakeman in die vroeë kerk. Wanneer hy hoor van die armoede van baie gelowiges in Jerusalem, verkoop hy sy eiendom om hulle te help.

Die Bybel sê nêrens dat Christene doelbewus arm moet leef of sonder enige ambisie moet wees nie. Geld en besittings is tog ’n seën in die hande van wyses, soos Spreuke en Prediker 5 vir ons vertel. Sulke wyse mense is nie suinig en hou alles vir hulleself nie. Hulle deel graag dit wat hulle het en seën ander mense daarmee.

Tog is die Bybel skerp wanneer gelowiges in blatante verbruikers verander wat net meer dinge wil hê en wat hulle eiewaarde meet aan alles wat hulle besit. Of wat ongelukkig is totdat hulle die nuutste gadgets, motors of klere bekom het.

Gelowiges moet diensbaar en vrygewig wees

Een van die aanleidende faktore tot die verbruikersmentaliteit kan die digitale ontploffing wees. Sosiale platforms soos Facebook kan ons in die strik laat trap van gedurige vergelyking met ander en wat hulle besit en doen.

Heather Kelly skryf op CNN se blog oor daardie goor gevoel wat ’n mens kry as jy jou eie lewe met ander mense s’n meet. Jy wil ook hê wat hulle het, want jy koppel jou identiteit aan materiële dinge.

Sulke mense, wat lewenslange “kortkommers” is, het nooit genoeg besittings nie, volgens Prediker 5:9. ’n Lewenslange soeke na nog dinge om te bekom is ’n verslawing wat niks met die hoeveelheid besittings te doen het nie.

Om aan die ander kant maar net teen die besit van materiële dinge te wees as ’n doel op sigself, is ook nie die punt nie. Dink net hoeveel mense sal sonder werk en ’n inkomste wees as almal skielik ophou koop!

Jy mag besittings hê en dit ook geniet. Jy mag met ’n nuwe motor ry en in ’n mooi huis bly. Jy mag mooi klere en juwele dra.

Solank jy nie hoef te ly vir daar waar jy bly, wat jy ry of hoeveel geld jy kry nie. Maar dan moet jy leef met ’n vrygewige hart en oop hande. Gelowiges moet elke dag hard werk sodat die armes en minderbevoorregtes ook kan eet (Handelinge 20:35).

Gelowiges moet eerder “verbruikers” van die Woord word en daardie boodskap van hoop met ander deel. In plaas van om selfsugtig te wees en na meer en meer te smag, moet ons mekaar selfloos liefhê. Ons moet mekaar eer en mekaar se laste dra en mekaar in liefde reghelp.

Die hartklop van die evangelie is diensbaarheid en vrygewigheid. Jesus se lewe van nederigheid en opoffering is die bloudruk vir ons wat Hom wil volg.

Hy het gekies om in slaweklere tussen mense te leef en het graag in die geselskap van uitgeworpenes, armes, sondaars en randfigure verkeer. Dit wys baie duidelik dat Hy teen gierigheid en die nimmereindigende opgaar van besittings was. Die punt is dus om nie besit te word deur jou besittings nie, maar slegs deur Christus!

Hierdie artikel word aangebied in samewerking met Ekerk. Kliek op ekerk.org.