Maklike oplossings vir grys hare

0
263

Jy kan beslis nie vir altyd jou silwer haredos wegsteek nie. Dís hoe jy die beste daarvan kan maak.

’n Silwer kapsel word lankal nie meer net met bejaarde vroue in ouetehuise geassosieer nie. Bekendes en loopplankmodelle dra deesdae maklik hulle hare grys met selfvertroue. Jy het dalk nie die waagmoed om heeltemal grys te wees nie, maar op een of ander manier gaan jy met jou silwer lokke moet saamleef. Met die regte oplossing kan jou grys hare een van jou grootste bates word.

Grys of gekleur: ’n goeie snit is ’n moet

’n Goeie snit vir enige haarkleur is ononderhandelbaar. Kom saam met jou haarkapper ooreen op ’n styl wat jou gesigkleur en beste gelaatstrekke vlei. Besluit op ’n volhoubare plan wat vir jou beursie en leefstyl gaan werk. Moenie oornag van donker na witgrys of andersom verander nie. ’n Geleidelike verandering is altyd beter.

Wees eerlik wanneer jy en jou haarkapper die opsies bespreek. Moenie met ’n mond vol tande sit en kyk hoe hy ’n styl sny of ’n kleur kies waarmee jy nooit sal kan volhou nie. Sê jou sê! Dis jóú hare en jóú geld, so, maak seker jy kry ’n oplossing wat vir jóú werk.

Laat die grys hare heeltemal uitgroei

As jy kies om jou hare heeltemal grys te laat uitgroei, is blonde (ash) ligstrepies ’n goeie opsie. Op dié manier bring jy iets op die punte van jou hare aan wat natuurlik besig is om by jou haarwortels te gebeur.

Grys of wit hare lyk die beste by vroue met pienk, olyf of donker velle. As jy vaal of baie bleek is, sal jy maklik uitgewas lyk met grys hare. As jou bruin hare byvoorbeeld vaal begin lyk as gevolg van die grys, is ligstrepies in die regte skakering die antwoord.

Salonopsies om wit hare professioneel te kleur

Permanente kleur op al jou hare of ’n opbou van ligstrepies om daardie grys hare toe te maak, kan ’n duur proses raak as jy dit moet probeer volhou, veral as jy donker hare het wat baie grys is.

’n Semi-permanente kleur gee ’n sagter voorkoms omdat dit witter hare inskakeer en dit meer soos natuurlike ligstrepies laat lyk. Jy kry meer buigsaamheid en is verseker van ’n sagter voorkoms.

Wenke om jou silwer hare tuis te kleur

Dis lankal nie meer ongewens om jou hare tuis te kleur nie. Vir baie vroue is dit die enigste bekostigbare, volhoubare manier.

Soos met enige tuisbehandeling moet jy eerstens presies verstaan wat jy moet doen en die instruksies aandagtig lees. Gebruik ’n permanente formule wat ammoniak en peroksied bevat, wat jou hare basies sal “vlek” vir langdurige resultate.

Bly binne een of twee kleurskakerings ligter of donkerder as jou huidige haarkleur. Die versoeking is baie groot om jou hare baie donkerder of ligter te maak omdat jy dink dit sal jou grys toemaak, maar die kans is goed dat dit jou ouer kan laat lyk. Vind ook ’n kleur wat nie te veel kontrasteer met jou grys nie. Hoe groter die kontras, hoe groter die instandhouding.

Wanneer jy ’n kleur gevind het waarvan jy hou, bly daarby. As jy elke maand ’n ander kleur kies, ontstaan daar verskillende vlakke van kleur  wat baie onnet lyk. Moet ook nie te gereeld kleur nie. Jy sal al meer en meer kleurpigment op jou haarpunte kry en ’n opbou van kleur ontwikkel. So raak jou haarpunte onnatuurlik donker in vergelyking met die wortels.

Die rede waarop jy nie ’n opbou van kleur kry as jy by ’n salon laat tint nie. Die persoon in die salon is professioneel opgelei om nie die skakerings te laat oorvleuel nie. Die haarwortels word byvoorbeeld eerste gedoen en vir presies die regte tyd aangelos. Maar as jy noukeurig te werk gaan en die beste raad volg, kan jy tuis ook fantastiese resultate kry.

Vra iemand om jou te help sodat jy nie stukke grys oorslaan nie. Kleur eers die wortels volgens die spesifieke instruksies en daarna die res van jou hare. As jy dadelik al jou hare kleur, sal die haarpunte al hoe donkerder raak. Los die kleursel net so lank aan soos die aanwysings aanbeveel en nie langer of korter nie.

’n Waardevolle wenk: Moenie die spuitbottel gebruik wat saam met die kleursel kom nie. Dis dalk meer moeite, maar deur die kleursel in ’n glasbakkie uit te gooi, kan die kleur beter aangewend word. Gebruik dan ’n spesiale kleurkwas met growwe hare om die kleursel op die effektiefste manier aan te wend.

Daar is nie ’n standaardoplossing vir alle vroue met grys hare nie. Jy moet die beskikbare opsies oorweeg en besluit wat die beste by jou leefstyl, begroting, voorkoms en waagmoed gaan pas. Maak net seker dat jy vir lank met jou keuse sal kan saamleef.

Lees meer: Die beste maniere om regtig gelukkig oud te word.