Malva poeding en custard

Ek en my man het onlangs ons 10 jaar huweliksherdenking gevier. Weens al die sakke sout wat ons die afgelope dekade moes trotseer het dit my laat terug dink aan die dae toe hy nog by my kom vlerk sleep het.

Ek onthou hoe ek boksies in my gedagtes afgemerk het met elke afspraak totdat ek by die gevolgtrekking gekom het dat ons twee pas, soos malva poeding en custard! Ons huwelik sou so soet soos daardie malva-stropie wees!

Alles kom mos maar maklik wanneer die liefde nog soet smaak en jy kans sien vir enige uitdaging! Die kindertjies se gelag maak mettertyd jou huis se hart vol vreugde. Die horlosie teen die kombuis muur begin jou pas-aangeër word om gehoorsaam te wees aan die highlighters op die kalender teen die yskas.

Ons moes finansieële uitdagings trotseer, wat ‘n bydraende faktor was tot my man se natuurlike sout en peper haarkleur. Mettertyd het die Malva poeding en custard hul magic verloor! Elkeen het onafhanklik begin funksioneer om elke beskikbare sekonde optimaal te benut.

Die liefde is skielik nie meer so soet nie en nou raak die realiteit van elke uitdaging een wat soos ‘n berg voor ons lê.

Ek besef dat die liefde van ouds een was wat die deuntjie van ons liefdes-verhaal in ‘n soete melodie vertel het, sodat elke oor kon hoor en elke hart weer opnuut kon glo in die liefde.

Vandag klink ons deuntjie anders. Jy moet mooi luister, want hy is sag, maar tog nog hoorbaar….

Na 10 jaar se getroude lewe besef ek, die liefde is ‘n keuse.. Jy kies om te vergewe, al breek jou hart in skerwe. Jy kies om te verander, al is die transisie pynlik. Jy kies om te probeer en te probeer en te probeer.

Jy kies om na daardie sagte melodie te luister, jy kies om in die liefde te glo. Die boksies wat jy destyds afgemerk het is teen hierdie tyd deurmekaar geskommel. Die malva poeding is nie meer so soet nie en die custard nie meer so romerig nie, maar dit is wie jy is! Jy kies om te staan op God se Woord en die beloftes wat jy gemaak het om aan te hou veg sodat Hy weer die magic kan herstel.

Geloof is die vaste vertroue op dit wat jy nog nie kan sien nie. Jy kies geloof en God se vermoë om alles weer nuut te maak. Daardie perfekte kombinasie van Malva poeding en custard van ouds…net beter!