Malvapoeding

0
49
malva_poeding_resep.jpg

Jy onthou nog goed hoe julle as kinders lippe afgelek het vir ma se malvapoeding. Betower jou eie kinders ook met hierdie smullekker resep.

Genoeg vir 6
Tyd: 45 minute

BESTANDDELE
Vir die poeding
250 ml volroommelk
5 ml koeksoda
15 ml bakpoeier
250 ml meel
180 ml bruinsuiker
1,25 ml sout
1 groot eier
15 ml asyn
30 ml appelkooskonfyt

Vir die stroop
250 ml wit suiker
250 ml volroommelk
125 ml kookwater
60 ml botter by kamertemperatuur
5 ml vanieljegeursel

METODE
1. Stel die oond op 160 ºC.
2. Meng die melk en die koeksoda saam.
3. Meng die res van die bestanddele in ’n ander bak.
4. Voeg die melk-en-koeksodamengsel by en meng die beslag goed.
5. Giet die beslag in ’n oondbak wat minstens 5 cm diep is. Bak 30 minute.
6. Vir die stroop: Meng al die bestanddele in ’n kastrol en bring tot kookpunt.
7. Druk gaatjies in die poeding wanneer dit uit die oond kom en giet die stroop oor van die middel af na die kante toe.