Mandi Baard se wonderwerkbaba

0
587
mandi_baard_baba.jpg

Dis amper onmoontlik om te dink dat Kwêla-aanbieder Mandi so lank vir Jeandré gewag het. Sy vertel van die wonderwerke rondom die geboorte van haar blouoogseun.

“My heel eerste woorde toe die dokter Jeandré vir my wys was: ‘Maar hy lyk oukei! Hy is so perfek!’

“Ek het vir die pediater gevra of Jeandré oukei is, want hulle vat die babatjie gewoonlik weg as hy swak is. ‘No, he’is fine, fine,’ was sy antwoord. Hy was steeds onder drie kilo’s, 2,78, maar hy was heeltemal sterk genoeg.

Geld van vreemdes vir ’n in vitro-bevrugting

Selfs vandag nog moet Mandi haarself nou en dan knyp om net seker te maak sy droom nie. “Ek het só lank gedink ons gaan nooit ’n kind hê nie.”

mandi_baard_baba_1.jpgMandi en manlief Schalk se reis sedert 2010 was lank. Dit was ’n pad met baie teleurstellings, maar ook wonderwerke.

“Om te sê ons het gesukkel om swanger te raak, is om dit sagkens te stel,” vertel Mandi. Na hormoonbehandelings, twee onsuksesvolle kunsmatige inseminasies en twee baie pynlike laparoskopies, was ’n in vitro die enigste opsie wat oorgebly het. Maar dit is peperduur.

“Daardie dag in Oktober 2012 ná die doktersbesoek, het ons hier by die huis oorkant mekaar gaan sit en wonder of ons dit moet doen. Eintlik kon ons nie. Ons het nie die geld gehad nie.

“Ek was baie hartseer en teleurgesteld, maar tussen my snikke deur kon ek hoor hoe ek heeltyd SMS’e kry. ’n Vriendin het sonder om vir ons te sê die boodskap van die in vitro-bevrugting versprei en mense het geld in my rekening begin inbetaal. Groot bedrae, klein bedrae, elke sent het gehelp.

“Daardie eerste wonderwerk het ons in staat gestel om met die behandeling te begin. Die dag toe ons ons sakkie met inspuitings en medisyne gaan haal het, was ek so opgewonde. Vir my was dit die begin van ons baba.”

Toe Mandi na die in vitro steeds nie swanger was nie, was sy aan die einde van haar hoop. “Die bloedtoetse was negatief. Ek het op ’n bankie buite die kliniek gaan sit en ontroosbaar gehuil. Ek was bitter. Het tot vir Schalk gesê hy moet ’n ander vrou kry. Hy was die laaste een wat dit verdien het om nie ’n pa te kan word nie.” [Pagebreak] Na Kersfees twee jaar gelede, vertel ’n vriendin vir Mandi van Neville Norden. Hy is ’n pastoor van die Lewende Woord-gemeente wie se bediening dit is om vir vroue wat sukkel om swanger te raak, te bid.

mandi_baard_baba_2.jpg“Met niks om te verloor nie, is ek, Schalk en my vriendin, Lenandi, daardie Sondag na die Lewende Woord-gemeente. Na die diens sê Neville hy voel hier is twee vroue – een wat sukkel om swanger te raak en een wat sukkel met miskrame. Of ons nie na die tyd wil agterbly nie. Vir my was dit ’n teken toe net ek en ’n ander vrou na die diens agterbly. Neville het my baarmoeder gesalf en vir Schalk gevra om dit elke dag te doen. Op pad terug huis toe, het Lenandi nog gesê: ‘Mandi, nou het jy dit finaal oorgegee. Nou moet jy glo.’”

Mandi het haar nie danig daaraan gesteur nie tot sy twee weke later vir die vierde dag haar siklus mis …

Alhoewel ’n tuis-swangerskaptoets positief gewys het, is die enigste manier om doodseker te maak ’n bloedtoets. Schalk was nie baie lus om te gaan nie. Hy wou nie weer vals hoop kry nie, maar uiteindelik is sy en Schalk die oggend van 28 Januarie 2013 na die kliniek toe.

“Toe die suster na 20 minute inkom en vir my knipoog, was ek seker dit was ’n teken van empatie. Maar toe sê sy vir my: ‘Jy’s swanger’. Ek en Schalk kon dit net nie glo nie. Swanger, en dit op die natuurlike manier. Twee maande ná die onsuksesvolle in vitro gaan sit ons op daardie selfde bankie buite die kliniek en ek huil, maar dié keer nie van hartseer nie.”

Vriendin daar op die regte tyd

Dit was egter nie die einde van Mandi se probleme nie. Omdat daar aan haar baarmoeder gesny is, kon sy nie normaal geboorte skenk nie. ’n Keisersnee is gereël.

Die swangerskap het goed verloop. ’n Bietjie naarheid en so, maar niks wat abnormaal is nie. Tot in week 30: “Een oggend word ek drieuur wakker en begin naar word sonder ophou. Ek het toe verskriklike sooibrand ontwikkel, waarvoor ek medisyne gekry het.”

Op 34 weke, terwyl hulle televisie gekyk het, het Mandi skielik begin bloei. Strome en strome daarvan. “Ek en Schalk was histeries. Ons het niks ingepak nie; net in die kar geklim en gery. Die rede vir die bloeding was ’n verkalkte plasenta. Ek kon nie meer genoeg voedingstowwe vir Jeandré gee nie. Ek is afgeboek, moes soveel as moontlik lê en het inspuitings gekry om sy longetjies sterk te maak. Die keisersnee is toe vervroeg tot 17 September.”

[Pagebreak] Twee dae later, Vrydag 13 September, voel Mandi so sleg dat sy nie eers uit die bed opstaan nie. “Ek het net snaaks gevoel. Seer en ongemaklik en my maag het nie lekker gevoel nie.”

Deur die loop van die dag gesels sy met haar skoonma en ’n vriendin, Michelle Beling. Vir Michelle klink die simptome baie soos kontraksies, maar Mandi steur haar nie daaraan nie. Schalk is dié dag in Middelburg. Michelle besluit om na werk ’n draai by Mandi te gaan maak selfs al antwoord dié nie haar foon nie.

Terwyl dié twee kuier, begin Mandi weer bloei. “Maar dié keer was ek reg daarvoor. Ek het mos nou al hierdeur gegaan, maar die arme Michelle nie. Toe ek vir haar sê ek het begin bloei, was sy in ’n toestand: ‘Okay, okay, just stay calm. Be calm. Everything will be okay.’

Vrydag die dertiende eindig nie rampspoedig nie

By die hospitaal bevestig ’n ondersoek dat Mandi reeds met kontraksies begin het. “Dit was nie vir my seer nie. Of nie so seer as wat ek gedink het dit sou wees nie. Dis darem ook nou nie asof ek al voorheen ’n kind gehad en geweet het hoe dit voel nie.”

Intussen het Schalk ook daar aangekom. “Hy moes in ’n rekordtyd van Middelburg af gery het. Toe daar op ’n noodkeisersnee besluit is, het ons my skoonouers laat weet. Hierna het vriende begin opdaag. Dit was so ’n feestelike atmosfeer.

“Toe ek en Jeandré by daardie saal uitgestoot word, het dit nes my troue gevoel soos die mense ’n tonneltjie vir ons gemaak het. Almal was daar – al ons vriende, familie, dierbares wat ons in hierdie drie jaar bygestaan het. Ons was so geseën, net soos Jeandré se naam, wat ‘God is genadig’ beteken.”

“Die pad wat ons moes loop sodat ek vandag in Jeandré se blouste blou oë kan kyk, het my aarde toe gebring. Ek het besef hierdie is nie ’n merietestelsel nie. Soms is die lewe nie regverdig nie. En dikwels kan ’n mens dit nie verduidelik nie. My hart gaan uit na mense wat daarna smag om kinders te hê, want eintlik ‘verdien’ niemand ’n kind nie. Dit is uit genade en só ’n groot geskenk as God die wonderwerk van ’n kind aan jou toevertrou.

Kliek hier om pragtige foto’s van Mandi se babatee te sien.