Manie Jackson se ma red sy lewe

0
394
manie_jackson.jpg

“Luister áltyd vir jou ma,” sê Manie Jackson. Ma’s is engele, en syne het hom waarskynlik van ’n tragedie gered.

Ek is laat en daar is net een uitweg: voet in die hoek. Van Frankfort af moet ek in Parys kom vir my volgende konsert, en gou ook. My Skyline het al beter dae gesien, maar dit behoort my darem vinnig by my bestemming te kry. Net jammer die bande is so glad (én dis die dae voor ABS-remme en lugsakke).

In stilte ry ek en my eksvrou. Haar selfoon piep. Dis ’n mooi inspirasieboodskap van my ma af. Dis net weer ’n bevestiging dat Ma altyd op haar knieë bly vir haar kinders en hulle veiligheid.

Skaars vyf minute later gebeur die ondenkbare.

’n Enorme vragmotor verskyn voor ons in die pad. Geen ligte, waarskuwingsdriehoeke of mense nie. Die vragmotor versper die hele brug!

My hart mis ’n slag. Die opsies flits deur my kop: “As ek links draai, gaan ek teen die brug afjaag. As ek regs draai, gaan ek onder die vragmotor inry. Hier kom die dood,” is die laaste gedagte wat deur my gedagtes skiet.

Ek voel hoe my knieë teen die instrumentpaneel voor my vasslaan. Hoe my borsspiere skeur. Hoe fyn glasstukkies soos duisende spelde in my voorkop steek.

Ons moes eintlik dood gewees het, maar ons leef! Dit was asof Iemand die stuurwiel gevat en ons teen die vragmotor se wiele vasgestuur het. Asof die wiele as ’n buffer gedien het. Ons is nie onder deur nie. Ook nie plotseling van die brug af nie.

Die kar is afgeskryf. Ons nie.

Noodpersoneel is binne minute op die toneel en almal skud kop oor die feit dat ons oorleef het. Trouens, ek het so ‘goed’ daarvan afgekom dat ek die bloed afvee en daarop aandring dat iemand my help om by die konsert in Parys uit te kom. Daar ís nog tyd. As ons nóú ry, sal ek nie te laat wees nie.

As ’n musikant wat nog ’n sukkelbestaan voer en oor bekendheid droom, kan ek dit nie bekostig om nié op te tree nie. As ek nie opdaag nie, kry ek nie betaling vir die aand nie. Ek sal ook nie my normale kwota van vyf tot tien CD’s per vertoning kan verkoop nie. Dít beteken daar sal nie genoeg geld wees vir kos, huur, brandstof en al my ander maandelikse uitgawes nie.

[Pagebreak] Laat ek dit nou maar erken: Ek is’n mommy’s boy. Ons is vyf broers, maar ek en my ma, Ina, was nog altyd baie na aan mekaar.

Wat my egter die diepste van my ma getref het, was haar geloof. Party dae was dit maar ’n handvol met vyf seuns in die huis, maar my ma het ons op haar sagte manier geleer om haar gesag te respekteer, net soos ons God s’n moes respekteer.

manie_jackson_ma.jpgAl was ek ’n rustige, soet outjie, was dit nie altyd maklik om vir jou ma te luister nie. Sy het grootgeword in ’n streng pastoriehuis; dus was daar ’n hele paar dinge wat vir ons ook taboe was. Om na sokkies toe te gaan, te gaan fliek en na sekere musiek te luister, was in ons huis ‘onbetaamlik’. Daarom het ons seuns baie kanse gewaag.

Een keer, in graad 10, het ek en ’n vriend besluit om dam toe te gaan. Ons wou uitvind hoe dit voel om dronk te word. My vriend het met ’n bottel brandewyn in sy sak by ons huis aangekom. My ma moes op die een of ander manier die klingel van die bottel in die sak gehoor het. Toe begin sy bid dat daar iets moet gebeur sodat ons nie by die dam kon uitkom nie. En raai wat? Dit reën toe die hele naweek. Die dam, leivore, spruit … alles het oorstroom en ons kon nooit by die dam óf ons drinksessie uitkom nie! My ma het my eers ná skool daarvan vertel.

Dit was haar manier: om te bid of ’n moeilike situasie subtiel te benader eerder as om ons trompop te loop en sommer net te baklei.

Dalk sou my motorongeluk vermy kon gewees het of minder ernstig gewees het as ek maar net na haar geluister het. “Manie, onthou om jou sitplekgordel vas te maak,” het sy tot vervelens toe gesê. Ook: “Onthou, dis beter om vroeër te ry as om laat te wees en teen tyd te jaag.” Jaaa, Maa.

Plaas dat ek my ore oopgemaak het.

Die ongeluk het my gelukkig geléér om te luister en om opnuut dankbaar te wees vir ’n wonderlike ma soos myne.

[Pagebreak] Ek glo my ma wás my engel daardie aand. Die woorde op die selfoon wat my eksvrou voorgelees het, was ’n kettingboodskap in die lyn van: “Here, ek dra my kinders aan U op en vra dat U hulle sal bewaar … dat geen onheil oor hulle pad sal kom nie … dat alles goed sal gaan.” En toe het sy in haar eie woorde onderaan getik: “Ek bid ook vir julle twee, dat die Here julle sal beskerm.”

Ek glo daardie laaste sinnetjie het ons lewens gered.

Vandag weet ek ook God luister na gebede, en Hy hoor veral ’n ma s’n.

Ek is nog bewerig van skok toe ek met my seer, stram lyf op die verhoog klim. My knieë is so styf en opgeswel dat hulle vir my ’n bierkassie as trappie moet gee om makliker bo te kom. My oë is ook toegeswel en my kakebeen potblou. Dit lyk of ek in ’n kroeggeveg was. Maar ek gee nie om nie. Vanaand staan ek hier met ’n dankbare hart. Teenoor ma’s wat vir hulle kinders bid … en teenoor God wat na sulke gebede luister.

Die universele boodskap wat ek sedert die ongeluk aan mense probeer oordra, is een van dankbaarheid en genade. Aan die ouers in die gehoor sê ek gewoonlik iets soos: “Ma’s, Pa’s, bid vir julle kinders. Moet nooit jou gebed onderskat nie. God hóór jou.” Ek kan uit eie ondervinding getuig dat dit waar is. Vir kinders sê ek: “Luister na julle ouers. Wees gehoorsaam, want glo dit of nie, hulle weet waarvan hulle praat.” Ek het ook dít self beleef.

Ek voel steeds vreesbevange as ek naby ’n vragmotor op die pad kom, maar ek leef met ’n dieper bewustheid van die lewe. ’n Groter afhanklikheid van God. Ek en my vriend en vennoot, Victor (Bles Bridges se seun), ry sowat 10 000 km per maand om by al my konserte uit te kom. Elke keer vra ek dat die Here Sy hand van beskerming oor ons sal hou. Dis met opregte dankbaarheid dat ek kan sê ons was nog nie een keer in ’n ongeluk nie. Ek word ook elke oggend wakker met die wete dat vandag niks anders as blote genade is nie.

Die ongeluk het my darem ook ’n paar ander belangrike lesse geleer, soos om seker te maak dat ek my veiligheidsgordel dra – elke keer. En dat ek betyds vertrek. Sien? Niks gebeur sonder ’n rede nie. Vandag verstaan ek wat gehoorsaamheid beteken … én het ek finaal besef: “Manie, lúister vir jou ma.” Sy weet immers die beste!