Mans se seer is anders

0
15
mans_se_seer_is_anders.jpg

Saam met hul moedersmelk kry hulle reeds die boodskap in: “seuns huil nie”.

Darius se agtienjarige seun Tobie is aan beenkanker en Leukemie oorlede – nadat sy tweelingsussie Carine twaalf jaar gelede ook aan kanker dood is.

Pyn kan ’n mans plat slaan

In enigiemand se boek is ’n kind se dood die ergste ding wat jou kan tref. Hoe hanteer jy dit as jy twee kinders verloor? Wat gee jou die krag om op te staan en aan te gaan, en selfs vir ander hoop te gee? Darius verduidelik: “Om ’n geliefde te verloor, is erg – maak nie saak hoe naby of ver hy of sy van jou af is nie. Om twee kinders te verloor, is twee maal so erg. Maar ek vat dit liewer so-dat die Here hulle vir ’n tyd – ses en agtien jaar – aan ons geleen het. En dit is oneindig beter as om sonder hulle te gewees het. ’n Belegging kry sy waarde eers as dit opgeëis word. Carine en Tobie was altwee ’n belegging met ewigheidswaarde.”

Hulle was ook ’n tweeling – die derde en vierde kinders, na ouboet Derik en ousus Rinie. “Soos baie kinders was hulle baie besig en baie energiek.Carine het alles met oorgawe gedoen. As sy gelag het, was dit uit haar maag uit en as sy gehuil het, kon mens dit tot in die Kaap hoor. Tobie was die vasbytertjie, en hy kon aanhou tot die koeie huis toe kom.”

Op ’n Kersdag het Carine na kerk skielik begin naar word en opgooi. Kort daarna het haar een ogie begin staar en kon sy hom nie toemaak nie. Dit was die begin van ’n hartverskeurende ses maande van toetse en bestraling, van hoop en wanhoop, wat geëindig het toe sy aan ’n aggressiewe vorm van kanker oorlede is.

Tobie het aanvanklik dokter toe gegaan met ’n stresfraktuur wat hy tydens ’n atletiek oefensessie opgedoen het. Verdere toetse het gevolg en die uitslag van ’n biopsie het getoon dat hy beenkanker het.Weereens moes Darius, Karin en Tobie die pad stap – toetse, bestraling, hoop, wanhoop. “’n Mens bly maar glo dat dinge nie so erg is nie en dat alles gou weer normaal sal wees,” sê Darius. “Die behandeling maak dinge ook moeilik in die sin dat daar altyd iets anders is wat gedoen kan word in die plek van dit wat nie werk nie. (Maar uiteindelik) al sê jy dit nie hardop nie, is jy besig om afskeid te neem. Want as jou kind voor jou wegkwyn, en jy sien hoe daardie eens lewendige oë verdof, weet jy die skrif is aan die muur.”

[pagebreak]

Hoe hanteer hy pyn?

En wat doen jy dan? Hoe kry jy dit reg om jou kinders te help en terselfdertyd nog fisies en geestelik staande te bly? “Aanvanklik het ek gedink die familie hét mos ’n predikant; hoekom sal hulle na iemand anders wou gaan? Met al die hulp wat vandag beskikbaar is, dink ek dit was dom om nie daarvan gebruik te maak nie. Met Carine se siekte was die kinders klein, so ek en Karen het alleen gedra. Met Tobie was dit anders en Derik en Rinie kon ons hande neem en saam met ons die las dra. Ek en Karin het ook boeke gelees, en tot ons verbasing ontdek daar is nie een resep of metode nie. Daar is ’n verskeidenheid maniere om trauma en hartseer te verwerk. God ontmoet elke mens daar waar hy of sy die gemaklikste is, en daarom kan ons staande bly. God het Sy manier om dinge te doen – of dit nou ’n kaartjie, ’n briefie, ’n sms, ’n oproep of ’n klop op die skouer is. Hy laat alles ten goede meewerk sodat daar rustigheid in elkeen van ons se lewe en harte kan kom.”

En rustigheid en aanvaarding het inderdaad gekom in die harte van dié, saam met die besef dat hulle mekaar nie vir altyd het nie, en dat hulle mekaar daarom moet geniet solank as wat hulle die tyd het. Daar was ook nuwe diepte in hul verhouding tot mekaar. “Ons kon saam lag en saam huil.” vertel Darius. “Dit was die wonderlikste oomblik die Woensdag-aand voor Tobie se dood, toe elkeen van ons vir hom kon sê hoe ons oor hom voel en watter voorreg dit was om sy pa, sy ma, sy broer en sy suster te wees.”

Dis nie vir altyd seer nie

In sy boek Man’s Search for Meaning beskryf konsentrasie-kamp oorlewer Victor Frankl wat hy noem “the last of the human freedoms”: Mens kan nie kies wat met jou gebeur nie, redeneer Frankl, maar jy kan kies – hoe traumaties die gebeure ook al – hoe jy daarop reageer. En met Darius, Karin, Derik en Rinie kon dit so maklik so anders gewees het; ’n gesin wat vir die res van hul lewens in rou en gegriefdheid vasgevang is deur ’n dubbele tragedie. Maar hulle het gekies om te leer en voluit te bly lewe. “Die Prediker,” verduidelik Darius, “praat van ’n tyd vir alles onder die son – ’n tyd vir bymekaar maak, en ’n tyd om te verloor wat bymekaar gemaak is. Tussen hierdie twee uiterstes moet ’n mens jou lewe leef. En dit is die lewe. Hiervan kan niemand wegkom nie. Dus, in plaas van bang wees om mens te wees en om te lewe, moet ’n mens eerder elke geleentheid aangryp en elke oomblik saam met jou mense ten volle gebruik. Liefde en saamwees, liefde en omgee, liefde en aan mekaar gebind wees, is vir vandag en nie vir môre nie.”