Marelize Earl: Mooi klere maak my arm

0
100
klere.jpg

As jy soos Marelize Earle baie geld aan mooi klere spandeer, kan ons jou leer hoe jy ou goed nuut kan maak.

“Ek skaam my morsdood oor amper alles wat ek toe gedra het! Veral my matriekafskeidrok. Daardie foto’s is so diep weggebêre, ek sal dit self nooit kry nie. Ek weet nie wat was erger nie – die swart sequin-materiaal of pof-onderlyf nie! Hopelik weet ek deesdae ’n bietjie meer van styl.

“Jenni Button en Philosophy is my gunstelingklere. Dis tydloos en elegant. Ek verkies klassieke klere wat vleiend en gemaklik is. Myns insiens is daar nie regtig ’n ‘moet-hê’-item wat in elke vrou se kas hoort nie. Dra waarvan jy hou en waarin jy goed voel. ’n Goeie kopie is wel iets wat jy baie kan dra en met bykomstighede kan verander om by verskillende geleenthede te pas. Een van my gunstelinge is ’n swart rokkie in ’n Jackie O ontmoet Audrey Hepburn-styl, en vir daardie ‘vet dae’ is ek mal oor my oorslaanrok, wat deur Carolina Herrera bekend gemaak is.

“Daar is hope denims in my kas, ek voel die heel gemaklikste daarin. Nog iets waarop ek geld sal uitgee, is mooi oefenklere. Die helfte van my kas is vol oefenklere. As jy sweet, moet jy ten minste mooi klere aanhê – dan kan jy nie sleg lyk nie!”

As jy moeg is vir jou klerekas, maar te platsak om winkels toe te haas, is hier vir jou ʼn oplossing. Ruk jou klerekas reg met ons wenke:

So maak jy ou gunstelinge weer nuut!

Dit is nie altyd nodig om ou klere weg te gooi en nuwes te koop nie. Soms kan jy met ’n klein verandering ’n ou gunsteling weer nuut maak. Doen dit so:

OUD: Oorgroot rok
MAAK DIT NUUT:
- Maak dit korter en dra dit met ’n mooi belt.
- Verander dit in ’n romp.
- Maak ’n jumpsuit daarvan.

OUD: Wye romp
MAAK DIT NUUT:
- Verander dit in ’n boob tube-rokkie.
- Verander dit in ’n korter rompie.

OUD: Denim
MAAK DIT NUUT:
- Kleur dit om weer splinternuut te lyk.
- Verander ’n stewelpyp-denim in ’n skinny snit.
- Werk kantinsetsels in waar ’n denim geskeur het.
- Maak dit ’n kortbroek.

OUD: T-hemp
MAAK DIT NUUT:
- Verander ’n ou langmou-T-hemp in ’n rompie wat met ’n strik voor vasmaak.
- Maak dit korter hempie met wye hals wat jy oor tank top kan dra.
- Maak ’n empirelynrok van ’n ou T-hemp en 3 groot mans-T-hemde.
- Verander dit in ’n halternektoppie.
- Verander dit in ’n serp.
- Verander ’n ou langmouhemp in ’n V-halstoppie met knope.
- Klein T-hemp en ’n groter een kan in peplumtoppie verander word.

OUD: Tank top
MAAK DIT NUUT:
- Werk kantmoutjies aan vir ’n romantiese gevoel.
- Verander dit in ’n handsakkie en werk ’n patroontjie op.

OUD: Oopknoophemp
MAAK DIT NUUT:
- Sny moue af, los donderste knope oop en knoop die twee los pante aanmekaar.
- Werk die synate in vir ’n beter snit.

OUD: Baadjie
MAAK DIT NUUT:
- Gee nuwe lewe met ander knope of beter snit wat by jou figuur pas.

OUD: Langbroek
MAAK DIT NUUT:
- ’n Wit langbroek kan byvoorbeeld rooi gekleur word.
- ’n Wyepypbroek met rekkies onder by die some kan in ’n harembroek verander word.