Margaret Thatcher sterf

0
20
Margaret.png

Barones Margaret Thatcher, die oudpremier van Brittanje, het Maandagoggend gesterf. Sy was 87 jaar oud.

Margaret Thatcher was ‘n merkwaardige vrou. Sy was onder andere ook die enigste vrou wat ooit ‘n Britse premier geword het. Baie mense is vol lof vir haar en reken dat sy een van die beste premiers was wat Brittanje nog ooit gehad het. Maar haar dood is deur Britse steenkool-mynwerkers as ‘n “wonderlike dag” beskryf. Thatcher het tydens haar termyn baie vasgesit met die vakbonde en sy wou nie aan hulle eise toegee nie. Nou is die vakbonde en die mynwerkers verheug oor haar dood en hulle gaan moontlik selfs ‘n betoging by haar begrafnis hou om hul afsku vir haar ten toon te stel.

Ek dink die mynwerkers se optrede is kru. Ons almal hou van sekere mense, terwyl ons seker ook weer minder hou van ander mense. Maar in elke mens is daar tog ook iets goed wat jy kan uithaal en kan belig. En daarmee bedoel ek nie dat ‘n mens net by iemand se dood op ‘n mooi karaktertrek van die persoon moet fokus nie. Natuurlik kon die mynwerkers dit wel gerus ten minste by haar dood gedoen het. Maar eintlik behoort dit ‘n mens se benadering te wees ten opsigte van elke mens wat jou pad kruis, of jy nou hou van die persoon of nie. Gaan probeer bietjie vandag om ‘n mooi eienskap raak te sien ook in die lewe van mense van wie jy nie vreeslik hou nie. Jy sal verbaas wees wat dit aan jou verhouding met die persoon doen as jy jouself gaan instel om in die vervolg iets positiefs in die persoon se persoonlikheid raak te sien.

Paulus sê in Romeine 12:18 As dit moontlik is,sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.