Marianne Kriel: Wat ek geleer het…

886

ROEM KAN ’N GOEIE DING WEES …
as jy dit gebruik om ander mense te help. Dit kan ook ’n aaklige ding wees as jy dit gebruik vir jou eie selfsugtige doeleindes.

GEDULD WAS ALTYD ’N STRUIKELBLOK …
tot en met die aanneming van my dogtertjie. Nou word daar vinniger geleer en is dit ’n wonderlike virtue om te hê.

OM PROFESSIONEEL SPORT TE BEOEFEN …
moet jy aan een van ons land se drie topsportsoorte deelneem om ’n bestaan te kan maak. Anders sal jy ook vir ’n inkomste moet werk.

OM ’N DROOM NA TE VOLG …
gee jou rede om elke dag te groei. Jy kan nie net doelloos deur die lewe gaan nie. Dit is ook nodig om nuwe drome in elke seisoen te volg.

’N SEISOEN SE WERK IN DIE BUITELAND …
(Amerika) was wel gerieflik, gemaklik en goeie lewenservaring. Daar was niks negatief daaraan nie. Dit bly tog lekker om terug te wees.

TELEURSTELLINGS BOU JOU KARAKTER …
as jy op die regte manier daardeur werk en die groeiproses aanvaar. Dit was die tye dat my verhouding met die Here die meeste gegroei het.

AS ’N MENS IS JY NIE VERANTWOORDELIK …
vir almal se nood en noodsaaklikhede in die lewe nie. As iemand wat graag ander dien, moet jy weet waar om jou grense te stel.

AANNEMING IS ROF, MAAR …
die onvergeetlikste en mees belonende pad wat enigiemand kan stap. Dit is nodig om dit in vennootskap met God te doen.