Marietjie en Monqi, engele om ons

Liewe Persoon

Sy sê haar naam is Marietjie. Sy het ‘n Hannah Montana t-hemp aan en het ‘n boy’s-cut-haarstyl. Ek skat haar so 30. Sy glimlag breed vir my toe ek vra of ek langs haar kan sit. Haar naels is kort afgebyt en jy kan aan haar vel sien dat sy baie tyd in die son deurbring. Sy verkyk haar aan die eerstejaarstudente wat sing en dans. Sy lyk gelukkig en klap uitbundig hande.

Eenkant sit ‘n man – Monqi, in ‘n rystoel. Die linkerwiel is met bloudraad aan die raam van die stoel vasgemaak. Ek wil ‘n groepfoto neem, en loop na hom om te vra of hy nie wil naderkom nie. Ek sien sy lyf is inmekaargetrek en ek besef hy sal nie self nader kan kom nie. Hy steek sy benerige hand uit…en ek vat dit. Sy naels is lanklaas geknip en die reuk van ou piepie kleef aan sy menswees. Hy praat swaar, maar klap sy hande toe ek die handvatsels vat en hom nader stoot.

Dit is foto-tyd en die studente glimlag breed, en ek sien hoe Marietjie en Monqi se oë blink. My hart wil breek.

Ek moet dadelik, om Monqi se aandrang, hom terugstoot na sy sonkolletjie in die hoek van die erf. Ek vat weer sy hand en sê “Jesus loves you”, want dit is al wat ek oor my lippe kry. Hy wink my nader en soos ek my oor nader bring om beter te hoor, prewel hy: “I pray all the time. God loves Monqi a lot”.

My keel brand en woorde lê dik in my mond. Here! Ek verstaan nou eers regtig wat genade beteken. Genade wat soos bloed deur jou are bruis. Genade is nie geld nie. Dit is nie goeters nie. Dit is nie voorspoed nie. Dit is nie gesondheid nie.

Genade is soveel meer…

Dit is die glimlag op Marietjie se gesig. Dit is Monqi se sekerheid dat – alhoewel sy lyf en verstand afgetakel word, hy ‘n Koningskind is.