Masterchef wenke vir gesonder braai

0
50
Leandri_van_der_Wat.jpg

Leandri van der Wat vertel hoe om op Braaidag heerlik saam te kuier sonder om jou dieet te ruïneer.

So kan jy gesond en lekker braai

As jy jou figuur dophou, is ’n maer vleissnit die beste keuse. Iets soos hoender of selfs volstruis, wat baie soos rooivleis smaak, is heerlik oor die kole. As jy by die see bly, is daar natuurlik niks beter as ’n visbraai nie. Marineer die vleis in suurlemoensap, vars pietersielie, gekapte rissie en ’n klein bietjie knoffelolie.

Ek sorg altyd dat daar ’n suurlemoen in my yskas is. Dit is ’n goeie bestanddeel vir ’n laevetmarinade en die suurheid sny heerlik deur die rokerige geure van braaivleis.

Wanneer dit by bykosse kom, stem ek nie saam met die hoëproteïen- en hoëvetdiëte soos dié van dr. Atkins en prof. Tim Noakes nie. Ek geniet steeds volgraankos, vrugte en ’n soetigheidjie.

Vergeet van mieliepap en braaibroodjies as bykos

Slaai gee jou die geleentheid om tekstuur, kleur en die wonderlikste geure te kombineer. Dis ook lekkerder by braaivleis as romerige aartappels omdat die vleis reeds so ryk is.

Ek sal byvoorbeeld gortslaai op die spyskaart sit met gemarineerde sultanas, ingelegde rooi-uie, seldery, bosbessies en ’n roketpesto. Of anders ’n Midde-Oosterse slaai met keker-ertjies, geroosterde soetrissies, lemoenskywe, neute, gedroogde appelkose en ’n slaaisous met skop.

Jy kan stysel vervang deur blomkool in ’n foeliepakkie oor die vuur te rooster. Bedruip dit met olyfolie en ’n bietjie kerriepoeier en rooster tot sag.

Die beste nagereg is om nektariens (kaalperskes) en perskes oor die vuur te rooster totdat dit karamelliseer. Onthou om groente en vrugte te kies wat in seisoen is. So kan jy seker wees jou kos is vars en bevat nog baie voedingstowwe. Dis in elk geval goedkoper, lekkerder en gesonder as vrugte buite die seisoen.

Vermy so versoekings by die braaivleisvuur

Wanneer ek braai, kies ek altyd kos waarvoor ek lus is. Ek eet darem nie kaas nie, so, daardie kaserige aartappelgebak is glad nie vir my ’n versoeking nie. Ek ontsê myself egter nie romerige souse en geregte nie, maar ek eet dit gewoonlik net by spesiale geleenthede. My swakheid is ’n tuisgebakte focaccia-brood, ek kan hope daarvan op een slag verorber.

Iets wat ek nie verstaan nie, is dat mense skyfies met doopsouse en hande vol grondbone voor die braaivleis eet. Dit bederf nie net jou eetlus nie, dit is wat jou vet maak!

Vir my gaan braai oor die atmosfeer en lekker kuier, nie net oor die kos nie. So, geniet ook die goeie geselskap om die vuur.