Mathys Roets: “Elke dag is vir my nuut”

984
Mathys Roets

Om oor die verlede te tob en jou oor die toekoms te bekommer gaan jou niks help vandag nie. Die geheim om nóú te leef is om bewus te wees van alles wat jy doen.

Om oor die verlede te tob en jou oor die toekoms te bekommer gaan jou niks help vandag nie. Die geheim om nóú te leef is om bewus te wees van alles wat jy doen.

Wat beteken jou WhatsApp-status “elke dag iets nuuts”?

Mathys: Ek het daardie status al ’n ruk gelede geskryf, maar met die televisieprogram wat ek vir SABC doen, is daar letterlik elke dag in my lewe ’n ander uitdaging. Vandag het ek saam met haaie geduik, gister was dit rotsklim en môre is dit boogskiet.

Om elke dag iets te doen wat ek nog nie tevore gedoen het nie, is vir my ’n keuse, ’n leefstyl. Daardie kragprop onder my lessenaar was nog altyd te ver om by te kom tot ek dit op ’n dag móés doen en dit reggekry het. Vir ander is dit onbenullig, vir my is dit ’n groot oorwinning. Die een ding wat ek nooit wil doen nie, is om terug te sit omdat dit die einde van my vermoëns is.

Watter ander “klein oorwinnings” het jy al behaal?

Mathys: Om net regop te sit twee maande na die ongeluk was ’n groot mylpaal. Aan die begin kon ek net dertig sekondes sit voor ek te moeg was. Die volgende dag ’n klein bietjie langer en ’n week daarna die hele dag.

Dit is letterlik hoe ek iets aangepak het wat my lewe verander het. Wanneer jy ’n maraton hardloop, is ’n tree nie groot nie, maar as jy nie kan loop nie, is elke tree ’n groot oorwinning. As jy te veel op jou einddoel konsentreer, vier jy nie die klein dinge wat jy wel tussendeur regkry nie.

Daar moet dinge wees wat jy mis?

Mathys: Ek sou graag saam met my seuns in die Drakensberge wou stap omdat dit as kind vir my so ’n wonderlike ervaring was. My vriende gaan nou die Otterwandelpad stap. Dit kan ek nie doen nie, maar iemand wat ’n knievervanging gehad het, het ook dit verloor. Al kan ek nie saam met my kinders swem nie, kan ek hulle steeds op die strand met my rolstoel jaag.

Daar is baie goed wat ek steeds het en kan doen, maar ek moes dit gaan soek. Om net te konsentreer op verliese is sinneloos. Ek is mos nie ek omdat ek goed verloor het nie.

Is jou werk nog vir jou lekker?

Mathys: Om elke dag iets anders vir die televisieprogram te doen en om ’n vertoning te gaan hou op hierdie plek en dan op daardie plek, pas by my leefstyl.

Waarvan ek die meeste hou, is ’n uitdaging. Van kleins af het ek daarvan gehou om aan goed te peuter en uitmekaar te haal, net om dit weer terug te sit en te sien hoe dit pas. Vandag is dit ook die soort goed wat my werk lekker maak – iets waarvan ek die idee kry, dit beplan, dit uitvoer en dit laat werk.

Daardie oomblik wat alles soos ’n legkaart inmekaar pas: ’n CD aanmekaar gesit word, ’n liedjie wat jy oefen en dan kry jy dit reg. Om soos Hannibal van die A-Team te sê: “I love it when a plan comes together!”

Dink jy jy inspireer mense met jou musiek?

Mathys: Ek dink my musiek help mense soms om uiting aan hulle emosie te gee. As die musiek en die woorde goed is, verwoord die liedjie gevoelens wat hulle nie kan uitspreek nie.

Die publiek dink byvoorbeeld “In my lewe” is my storie, maar die skrywer het nie eers aan my gedink toe hy dit geskryf het nie. Mense is baie keer in trane wanneer ek dit sing, maar die trane is nie omdat dit my storie is nie, eintlik omdat dit hulle storie is.

Daar is nie een spesifieke liedjie wat “my” liedjie is nie. Daar is wel musiek wat in sekere tye van my lewe iets vir my beteken het. Daardie liedjie is dan soos ’n foto wat die emosies en herinneringe van daardie oomblikke terugbring.

Wat is vir jou die definisie van sukses?

Mathys: My definisie van prestasie het oor die afgelope tien jaar verander. Selfs al is daar ’n bietjie van ’n voorsprong by die afdraandes, was ek baie trots toe net 400 mense uit ’n totaal van 1 800 deelnemers vinniger as ek in ’n maraton was. Meer trots as wat ek sou gewees het as ek sonder ’n rolstoel onder die eerste honderd deelnemers geëindig het.

Dis vir my lekker om te dink aan tye toe dit goed gegaan het, toe ek baie CD’s verkoop het. Deur te onthou dat ek die eerste DVD in Suid-Afrika opgeneem het, gee my hoop vir die toekoms. Daar is vir my niks verkeerd daaraan om sukses uit die verlede te onthou nie, maar is dit tyd om aan te beweeg. En snaaks genoeg, wil ek dit nie oorhê nie.

Wat het jy gedoen om nie moed te verloor nie?

Mathys: Na die ongeluk het ek gedink ek het baie verloor. My eerste reaksie was om alles dood te trek wat ek nie meer kon doen nie. Later het die fokus begin skuif na wat ek wel kon doen. Mettertyd het die lysie van die “kan doen” langer geword as die ander een, want dit wat ek aanvanklik nie kon doen nie, het verander.

Op die ou end het my lewe nie so baie verander nie. My rolstoel definieer my nie en ek sit beslis nie heeldag en dink hoe dit sou wees as ek maar net kon loop nie.

Was daar tye dat jy wou opgee?

Mathys: Ek het te seer gehad om ooit depressief te wees. Daar was nie tyd vir selfbejammering nie, want die proses na herstel het dadelik begin. Omdat ek nie gevoer wou word nie, moes ek onmiddellik leer om self te eet. Daarna het ek my tande leer borsel, begin om te skeer. Elke dag was daar iets nuuts wat my nader aan onafhanklikheid gebring het.

My kinders was die ander motivering. Ek wou so leef dat hulle nie skaam sou wees vir hulle pa nie. Hulle moes trots wees op my.

Ek was nog nooit hartseer oor my omstandighede nie. Goed wat met ander gebeur, maak my hartseer, maar nie my eie goed nie.

Wat is jou droom vir die toekoms?

Mathys: Vir eers wil ek my seuns plekke in Suid-Afrika wys. Ons moet saam foto’s neem en die stukke wat ek saam met hulle ’n staproete kan doen, sal ek doen. Dan sal ek vir hulle vertel waarvoor hulle moet uitkyk en by die eindpunt vir hulle wag: “Hier is julle tools, gaan doen dit, kom terug en wys my die foto’s.”

Ek wil leef en nie net bestaan nie. Leef is vir my om oor nuwe dinge te droom. Wanneer jy net bestaan, het jy moed verloor met jou omstandighede en leef jy net van dag tot dag.

My grootste droom is om altyd te kan droom!