Matthew McConaughey: Ek moes mens en dier red

0
119
Matthew_McConaughey.jpg

In The Paperboy wys Matthew McConaughey sy slag as akteur, maar tydens die verwoesting wat deur orkaan Katrina in New Orleans en omgewing gesaai is, het hy bewondering afgedwing en homself ook as filantroop bewys.

Matthew McConaughey is tot stilte geskok toe hy by die rampgebied aankom. Die tonele wat hom begroet, die enorme skade, dakke wat afgeruk is, huise wat platgevee is, bome wat ontwortel is, laat hom verslae om hom rondkyk. “Ek het gedink ek was voorbereid op wat vir my wag,” sou hy later vertel. “Ek hét immers televisiebeelde gesien van die verwoesting wat deur orkaan Katrina veroorsaak is.”

Maar die wrede werklikheid van die geteisterde landskap tref hom eers in al sy felheid toe hy in New Orleans land. Toe besef hy hoekom daar van “die stad van die dood” gepraat word. “Ek het nie geweet waar om te begin nie, wát om te doen nie. Daar was soveel getraumatiseerdes wat hulp nodig gehad het, soveel verlies, soveel skade.”

Selfs voordat hulle uit Kalifornië weg is, was dit vir Matthew en sy landgenote duidelik dat hierdie een van die ergste natuurrampe was wat die VSA nóg getref het. Dit was veral die verwoesting en rampspoedige gevolge wat die orkaan op New Orleans gehad het wat internasionaal opslae gemaak het. Ook Matthew was in die veiligheid van sy woonplek in Kalifornië voor die televisie vasgenael.

Toe die water genadeloos bly styg, het die paniek toegeneem, nie net onder die plaaslike inwoners nie, maar ook onder die res van die wêreld wat daarvan kennis geneem het. En toe gebeur wat die meeste gevrees is  … Die walle wat die Pontchartrain-meer van die stad afgekeer het, het onder die geweld van die watermassa meegegee. Die stad is van drie kante af oorstroom.

“Soos al die ander mense het ek probeer sin maak uit die vreesaanjaende situasie,” onthou Matthew. “Wat ek gesien en gehoor het, was te verskriklik vir woorde. Ek wou iets doen om te help, ek móés net. Maar wát?”

Sy agent was in verbinding met die vervaardigers van die <i>Oprah Show</i>. Oprah wou ’n afvaardiging New Orleans toe stuur wat nie bang sou wees om self hande uit die mou te steek nie. McConaughey het by hierdie groep aangesluit. Die oomblik toe hulle land, het algehele chaos hulle omring. “Dit was omtrent vir jou ’n sirkus,” is hoe Matthew dit beskryf. Die lughawe het gewemel van mense, onder wie hulpverleners van oor die lengte en die breedte van die land en die media vanuit alle uithoeke van die wêreld.

[pagebreak]

Katrina het nog in volle sterkte voortgewoed met windsnelhede van tot 280 kilometer per uur. Die owerheid het die inwoners in die pad van die orkaan gewaarsku om weg te kom. Hordes mense het uit New Orleans na ander dele van die VSA gevlug.

“Die geboue in die stad Waveland in Mississippi is die ergste deur die vernietigende krag van die orkaan getref. Feitlik alle strukture is eenvoudig met die grond gelyk gemaak.” Matthew vertel hoe daar desperaat na vermiste mense gesoek is en hoe hulle daagliks gevind is – sommige lewend, ander onder die dooies. “Dis waarheen ons sou gaan, het ons besluit. Ons wou die rou realiteit van hierdie ramp ervaar en die werklikheid vir die wêreld daar buite wys. Ons sou die stories vertel van gewone mense onder buitengewone omstandighede.”

Só, het Matthew gevoel, wend hy sy natuurlike talent as akteur en woordvoerder die beste aan. “Toe ek nog in Kalifornië was, het ek nie ’n benul gehad waar ek sou help nie. Sou ek water uitdeel by die skuilings waar die vlugtelinge hulle bevind het? Of sou ek die deure afbreek van die huise waarin mense vasgekeer was? Dit alles sou natuurlik kon help, maar was nie die beste vir my persoonlik nie. Ek moes saam met die Oprah-span verslag lewer oor die haglike omstandighede waaronder die slagoffers van die ramp moes leef en oorleef.”

McConaughey het dagboek gehou van sy wedervaringe terwyl hy aan die reddingspoging deelgeneem het. Hy het besef dat mense meer nodig gehad het as oorlewingsmiddele. Daar moes ’n lig aan die einde van die tonnel wees, hoop na al die wanhoop; die geloof, die belofte dat alles weer beter sou gaan, dat die lewe weer na normaal sou terugkeer. Bowenal moes daar rigting aan die hawelose mense gegee word. Iemand moes die leiding neem, iemand moes die besluite neem.

Waarheen moes hulle van hier af gaan? Wat moes volgende gedoen word? Daar was net een manier – hulle moes vorentoe beweeg. Maar hoe doen ’n mens dit wanneer jy alles verloor het? Waar sit jy jou voet neer as jy vorentoe wil tree? Na noukeurige oorweging is Matthew terug Texas toe, waar derduisende van Waveland se ontwortelde inwoners geskuil het. Hy kon nie sy oë sluit vir die algehele verdwaasdheid van die ontheemdes nie.

Later sou daar bereken word dat meer as 1 800 mense hulle lewens as gevolg van Katrina verloor het. Onder die oorlewendes was daar ontevredenheid oor hoe die ramp hanteer is. Verwyte is rondgeslinger. Die regering én die plaaslike owerheid is kwalik geneem omdat hulle die krag van die orkaan aanvanklik onderskat het en noodmaatreëls te laat getref is. Ook die reddingsaksies is nie altyd doeltreffend uitgevoer nie.

[pagebreak]

Maar McConaughey wou nie hieraan deelneem nie. “Nou is die tyd om saam te staan,” het hy die mense aangemoedig. “Ons krag lê daarin om te verenig, nie deur verdeeld te wees nie. Dit gaan nie help om iemand te soek om te blameer vir wat gebeur het nie. Later kan daar verantwoording geëis word van diegene wat aanspreeklik gehou kan word. Maar al wat dit nou gaan regkry, is om die samewerking tussen ons te kelder. Dit terwyl ons die toekoms dapper en waagmoedig tegemoet moet gaan. As individue en as ’n nasie.”

Voor Matthew se oë het daar feitlik ’n wonderwerk in die stad Austin in Texas plaasgevind. Daar het ’n goeie gees onder die vlugtelinge posgevat, die burgemeester het die vlugtelinge as “gaste” aangespreek en ook so probeer behandel. Kos, huisvesting en medisyne is voorsien. Verder is daar Katolieke en Protestantse kerkdienste gehou. Daar is selfs ’n haarkappery vir die dames bewerkstellig en kinders is per bus vervoer sodat hulle skool toe kon gaan. Austin het hulle tydelike tuiste geword, toegerus met meer vrywillige helpers en maatskaplike dienste as waarvan Matthew ooit sou kon droom.

Dit was nie net mense wat deur Matthew gered is nie. Mense wat van die dakke van hulle huise af gered is, kon nie hulle troeteldiere saamneem nie. Daar was hartseer verhale van honde wat na die reddingsbote geswem het, maar daar weggejaag is. Matthew, ’n diereliefhebber, se hart wou breek daaroor. Wanneer jy alles verloor het, het jy juis jou troeteldiere nodig om jou te troos.

Terwyl Matthew in die rampgebied was, het hy besoek gebring aan ’n hospitaal waar ’n dokter aangebly het om na die honde, katte en hamsters om te sien totdat hulle gered kon word. McConaughey het by hom aangesluit en daar gebly totdat hulp vir die diere opgedaag het.

Maar miskien het Matthew se meelewing die duidelikste geblyk toe hy ’n paar maande na die ramp sy 1971 sportmodel Corvette Stringray te koop aangebied om geld vir die slagoffers van Katrina in te samel. “Ek is bevoorreg om alles te hê wat ek nodig het terwyl die geld ander kan help,” is hoe hy hierdie filantropiese daad van hom verduidelik het.