Meer as net 24 uur in jou dag

Ek wens daar was meer ure in ‘n dag, ‘n dag met 30 ure kan dalk help, hoor ek myself hardop dink.

Ek is skoon uitgeput na die lang dag en ek het nog steeds nie alles ingepas wat ek so graag wou doen nie.

Soms sit ons soveel druk op onsself om te presteer, om almal om ons gelukkig te hou, om meer geld te verdien, om maerder te word en veroudering hok te slaan. Ons hardloop die hele dag van bakboord na stuurboord. En dit voel net asof daar nie genoeg ure in ‘n dag is nie.

“Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is en ek sal jou rus gee.” Dit was Jesus se woorde aan ons. Jesus se juk is sag. Om in God se rus te kom, is seker een van die belangrikste lesse wat ek hierdie jaar geleer het. Wanneer ons in Sy rus beweeg, kan ons Sy stem hoor en Hom toelaat om ons waarlik te lei op die pad wat Hy vir ons uitgelê het. Dit is ook in die plek van rus waar ons met meer selfversekerdheid kan voortbeweeg want, ons weet God het ons op die pad geplaas. Ons beweeg doelgerig waar Sy Gees ons lei.

ʼn Dag het net 24 ure sodat God dit vir jou kan vermag wat jy nie self in jou eie vermoeë kan inpas nie. Vind rus in Hom en sien hoe Hy die pad vir jou gelyk maak. Vind rus in die wete dat dit wat Hy in jou begin het, sal Hy voleindig, dit is Sy belofte aan jou.