Meer as ’n mossie. God is aan die tel.   

Ek hoor van ’n man wat sonder rede deur kollegas aangekla is en ’n ondersoek word teen hom geloods.

Hy weet hy is onskuldig, want dis by sy ma wat hy geleer het van eerlikheid en integriteit. Hy weet dat sy lewenswyse onberispelik is – dit is presies soos sy ma hom met haar manier van lewe gewys het. Hy weet hoe stap ’n mens die regte pad en geraamtes sal jy nie in sy kas vind nie.

Terwyl die ondersoek nog aan die gang is, staan hulle by die oop graf van hulle seun.

Die ondersoek is verby en daar kon niks teen hom gevind word nie. Tog lê die voetspore van die groot trappers oor sy lewe gesaai. Dit maak seer en die fut is uit sy lewe.

En so kan ons elkeen ons eie storie skryf. Kan ek weer die vraag vra: Gee God om?

Ja,! Kyk maar na die voëls en die diere om ons. Kyk na ons pragtige wilde diere daar in die wildparke. Op ’n manier bly die ekosisteem in plek. Elke voëltjie, elke diertjie se kos, is maar net daar. Hoekom? Want God sorg. Selfs vir die ou klein voëltjie sorg God vir ’n wurmpie of ’n saadjie.

Nou, as God vir die voëltjie wat nou nie so belangrik is nie sorg, hoeveel te meer sal God nie vir jou sorg nie? Ja, ek weet dit voel dalk nie nou vir jou so nie. Met al die dinge wat skeefloop en die een hou wat na die ander tref. Maar hier kom sê Jesus vir jou: God gee baie meer vir jou om as vir die voëltjies. Jy is vir Hom baie meer werd. Jy is vir Hom kosbaar. Hy weet presies van elke haartjie wat daar op jou kop is. Al het jy dalk nie meer veel daar nie, weet Hy presies hoeveel daar al uitgeval het.

Sê dit vir jouself oor en oor: God het my hare getel. Ek is soveel meer werd as ’n mossie. As God vir die mossies cover, hoeveel te meer sal Hy nie vir my sorg nie. Ek is eenvoudig net te kosbaar vir Hom.