Meer as net God en mens

Ek kyk verlede week ‘n video van ‘n vrou en haar man wat in Amerika by ‘n groot ‘Mega-kerk’ gewerk het en ook die aanbidding daar gelei het.

Hulle was baie gelukkig en het gevoel dat hulle alles reg gedoen het soos wat hulle gedink het God dit graag sou wou hê.

Hulle het egter gesukkel om kinders te hê en nadat hulle eendag ‘n konsentrasiekamp in Duitsland besoek het, het hulle begin wonder oor die ‘goeie God’ wat ons dien. Hoekom sal God soveel dood van onskuldige mense toelaat, en waarom tree hy nie in wanneer mense swaarkry nie?

Hulle het in God begin twyfel en weg van hul kerk af beweeg, uiteindelik het hulle hul geloof in God verloor en soos hulle sê het hulle ‘ophou in God glo’. Vandag is hulle ateïste.

Natuurlik het ek die kommentaar op die video gaan lees om te sien wat ander gelowiges hieroor dink, en ek was verlig om te sien dat baie gelowiges besef dat Christenskap baie meer as net God en mens is. Dat ons nie iets kan doen om God se guns te wen nie, God het ons reeds lief, selfs ten spyte van ons sondige natuur.

Christenskap gaan oor ‘n diep verhouding met God en om te streef om die Jesus-lewe te lei. God se Woord praat van die baie beloftes wat Hy vir ons gegee het, beloftes van voorspoed en geluk, maar Hy praat ook baie duidelik van die swaarkry wat ons op aarde sal beleef, as gevolg van sonde en verkeerde keuses wat mense maak. Maar wanneer jy in ‘n diep verhouding met God staan weet jy ook dat God by jou is, dat Hy jou hand vashou deur die moeilike situasies en dat Hy tog die beste vir jou wil hê. Hy het dit al telke male aan my bewys.

Mag jy vandag aan jou diep verhouding met God werk. Bring alles wat jy is voor Hom, bring elke struikelblok voor Hom en Hy sal jou daardeur dra.

Seënwense,

Stephanie