Meer as net woorde, pas dit toe!

Ek leef my droom. Daagliks. My werk is my passie. Maar, wat van jou?

Jy wat gereeld my blogs lees, van my Facebook inskrywings hou en so lekker kan lag as ek vertel van die verskillende temperamente se geite en dinge by die vrouekonferensies. Ek is dankbaar vir elkeen van julle wat my so gereeld ondersteun, en dis lekker om dieselfde gesiggies by meer as een konferensie of kamp raak te loop. Ek glo mos ‘n mens kan so baie bymekaar leer.

Natuurlik is dit vir my besonders om te hoor as iemand my na die tyd vertel dit was ‘n “lewensveranderende”  boodskap. Dis my hele droom, om ‘n verskil te maak in mense se lewens. Tog moet ek bieg, soms kyk ek iemand so en dan wil ek sê, “maar Sussa, het jy nie laasjaar presies dieselfde probleem gehad nie? Het jy nie laasjaar al vir my gesê jy gaan nou die groot stap neem, die verandering maak, jou droom najaag of jou doelwit opstel nie? Hoe lyk dit dan nou vir my of jy presies is waar jy laasjaar was?

Verstaan nou baie mooi. Ek oordeel nie. Elke mens se lewens is hul eie verantwoordelikheid, maar my liewe vriendinne, verstaan tog dat niks ooit sal verander as jy dit nie verander nie. Geen droom word vanself ‘n werklikheid nie. Jy kan nie vandag besluit jy gaan môre die Comrades marathon hardloop nie. Jy kan wel vandag besluit jy wil volgende jaar die Comrades hardloop of dalk in 2021. Jou volgende stap sal wees om ‘n oefenplan op te stel, die regte skoene te kry en daadwerklik tekkie op teer te sit totdat jy fiks en sterk genoeg is om die ou grote te kan aandurf.

Jy stel dus praktiese en kleiner doelwitte op wat jy stukkie vir stukkie bereik totdat jy uiteindelik jou droom sien werklikheid word.

Ek wil jou aanmoedig om al die kosbare boodskappe en raad wat jy by die verskillende sprekers by konferensies en kampe kry ter harte te neem en om te begin om dit in jou daaglikse bestaan toe te pas. Ek belowe jou, jou lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.

Vorige artikelVoelgoedboeke
Volgende artikelWaar is ONS…
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.