Méér energie elke dag van die week

245
meer energie

Kliek op voelgoed.co.za/7-daggeloofsplan vir méér geloofsplanne.

Voel jy flou en voos nog voor dit Vrydag is? Leef dan met ’n naweekmentaliteit. Werk vir jou klein “vakansies” regdeur die week in, voel gelukkig en gesond en kry meer energie.

MAANDAG

Hoekom is naweke vir ons so lekker?

Dit is nie net omdat jy nie hoef te werk nie. Alles gebeur stadiger. Jy word wakker, maar hoef nie dadelik op te staan nie. Julle eet ’n luilekker laat ontbyt. En kuier rustig saam met vriende of familie.

Dit is ongelooflik hoe baie dinge ons in hierdie twee dae kan inpas. Dit is geen wonder dat 72% van vroue sê hulle sal met ’n kleiner salaris tevrede wees as hulle net ’n naweek van drie dae kan hê nie!

Ontspanning is nie net niksdoen nie, dis die kreatiewe interaksie van speel, oefen en rus. Dit is nie effektief as jy die werk of frustrasies saamneem en lewendig hou nie. Dis juis om dit ’n oomblik te laat gaan.

Hoe meer ’n mens rus, hoe beter kan jy werk. Dis nie net goed vir jouself nie, maar ook vir jou werkgewer, kinders en man. Hou daarom onmiddellik op om jou eie behoeftes te ignoreer. En kyk dan hoe maklik jy deur die week kom.

God is ons Bron van krag. Hy het ons só gemaak dat ons nou en dan tot stilstand moet kom, ons batterye herlaai en net weer op Hom fokus.

Ses dae moet jy werk, maar op die sewende dag moet jy rus. Of dit nou ploegtyd of oestyd is, jy moet rus (Eksodus 34:21).

DINSDAG

Beplan reg sodat Maandag rustiger kan verloop

Die antieke Griekse geskiedskrywer Herodotus het geskryf dat oorhaastigheid die oorsaak van mislukking is. En ’n chaotiese week begin gewoonlik met ’n mal Maandag.

Raak ontslae van die struikelblokke (en spanning) deur vooruit te beplan. Dit is so dat niemand op ’n Vrydag al aan die volgende week wil dink nie, maar dit kan die lewe baie makliker maak as jy ’n blou Maandag kan verhoed. Bly ’n bietjie langer by die werk en skryf ’n doenlysie, sorteer die papiere op jou lessenaar en dateer jou kalender op.

So kan jy die volgende Maandag heerlik oor ’n koppie koffie en die koerant klets voor werk.

Respekteer jou natuurlike vermoëns. Navorsing oor kantoorwerkers het bevind dat 56% van mense glo dat hulle meer produktief is vroeg in die dag. As jy deel is van hulle, pak die grootste en belangrikste projekte in die oggend aan. As jy nie ’n oggendmens is nie, los die taai toffies dan vir ná middagete.

Hoe ook al, jy sal soveel berge versit dat daar tyd sal wees vir die dinge wat altyd agterweë bly: e‑posse beantwoord en dalk ’n dagdroom of wat!

Ek het tot die insig gekom dat daar vir ’n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet (Prediker 3:12).

WOENSDAG

Skep kort tye om te ontspan regdeur die week

Gelukkig is daar ’n koste-effektiewe manier hoe jy meer naweek in jou week kan inwerk. Maak al die nodige naweekbestanddele bymekaar: tyd, slaap, spontaneïteit en kuier. Sprinkel dit dan deur jou weekroetine.

Strek, drentel, speel. Naweekwoorde het ’n hoër plesierinhoud as dié van ’n gewone week. Maak nie saak hoe jy dit sê nie, maar ’n konferensie-oproep het nie dieselfde effek nie.

Sit ’n bietjie verbale woema in jou oggend deur ’n paar naweekwoorde (ontspan, asemhaal, herstel, ontlaai) op gekleurde kaartjies te skryf. Plak dit teen die rekenaar of motorradio vas.

Dit sal jou inspireer om van rat te verander op pad huis toe. Sien ’n woord raak, sê dit hardop, haal ’n paar keer diep asem.

In plaas daarvan om al hoe meer en meer te doen, moet ons eerder die kuns om af te skaal, aanleer. Raak ontslae van die dinge wat jou dag oorvol maak en skep tye van stil word, soos Jesus.

As jy elke dag saam met vriendinne gaan muurbal speel, los dit vir een keer. Is jy lid van ’n komitee wat jy haat? Bedank dan! Leer om minder te doen met jou tyd.

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag (Psalm 23:1-3).

DONDERDAG

Maak tyd om saam met vriendinne te kuier

Maak of jy ’n belangrike oproep moet maak en nie gepla wil word nie. Gaan stap ’n entjie, bel jou beste vriendin of gaan sê hallo vir ’n kollega wat jou laat lag.

Om die “ontmoetingstyd” in te werk, fokus op die kerntake. Jy sal meer ontspanne voel en so meer gedoen kry.

Gaan ’n Donderdagaand saam met vriendinne uit. Navorsing toon dat as vroue ontspanne is, skei hulle liggame ’n hormoon af wat as oksitosien bekend staan. Dit troos ons wees-my-vriendin-instinkte, met ander woorde, jou begeerte om saam met jou vriendinne te wees.

Die behoefte om met jou vriendin te gesels is biologies, wat bewys dat jy nie ’n girls’ night net vir naweke moet los nie. Reël ’n saamkuier in die week wanneer almal dit tog die nodigste het.

As jy te gespanne of hartseer is om te lag, laat jouself toe om te huil. Lag en huil het ’n positiewe uitwerking op fisieke en emosionele stres. En dit kan jou bui in byna enige situasie verbeter.

Ek het vreugde aanbeveel: daar is niks beter vir die mens in hierdie wêreld nie as dat hy eet en drink en vrolik is onder al sy geswoeg tydens die lewe wat God hom in hierdie wêreld gee (Prediker 8:15).

VRYDAG

Sorg dat jy genoeg rus en slaap

’n Aandjie in ’n hotel sal die gevoel van vryheid gee wat jy met naweke assosieer. Onthou ook dat hotelle in die week goedkoper is.

As hotelverblyf jou nie beskore is nie, bederf jouself dan tuis. Met meer as 70% van ons wat minder as agt uur slaap, het ons ’n paar kreatiewe sluimer-oplossings nodig.

As jy gewoonlik saans halftwaalf gaan inkruip, skakel al elfuur die ligte af. Jy sal die voordele van ’n ekstra halfuur voel.

Verruil laatnag TV-kyk vir ’n boek. TV kan ons slaappatroon verwoes, slapeloosheid aanhelp en dit moeiliker maak om in die oggend op te staan. Lees eerder, want dit is ’n goeie manier om jou te help om aan die slaap te raak.

Verander jou bed in ’n oase. Om lui in die bed te lê, voel soos sonde in die middel van die week. Maar met ’n houding en ’n paar estetiese aanpassings kan net drie minute se later lê soos ’n luuksheid voel.

Probeer meer kussings, vars blomme op die bedkassie, ’n leeslamp wat jy maklik kan bykom of ’n alarm-CD-speler wat met jou gunstelingliedjies gelaai is.

Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ’n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap (Psalm 127:2).

SATERDAG

Benut elke beskikbare tydjie wat jy kan

Gebruik elke beskikbare tydjie om te rus – maak nie saak of dit een minuut of een uur is nie. Ontspan, en jy sal voel hoe die stres uit jou liggaam vloei.

As jy net een minuut het, raak lam. Sorg dat jy in die gemaklikste posisie moontlik inskuif. Haal behoorlik asem en ontspan jou liggaam heeltemal. Konsentreer daarop om jou gesigspiere te ontspan – wanneer ons besig is, is ons geneig om te frons. Jy sal sommer meer energie hê wanneer jy weer aangaan met werk.

As jy vyf minute het, vergeet van alles. Maak jou oë toe en dink aan die laaste keer toe julle met vakansie gegaan het. Herleef die seewater om jou enkels en die son wat warm skyn. Jy sal definitief jou oë kan oopmaak met ’n glimlag op jou gesig.

As jy ’n uur het, vind ’n rede om te lag. Lees ’n snaakse boek, kyk na ’n komiese video of nooi jou beste vriendin vir koffie. Gesels doelbewus oor julle lekker tye saam. Herleef daardie oomblikke toe julle in die fontein gaan swem het, of met julle nagklere en pantoffels winkels toe is.

Dit moet ’n plegtige rusdag wees, ’n dag waarop julle vas, ’n vaste instelling (Levitikus 16:29-31).

SONDAG

Gaan hou vakansie saam met jou gesin

As jy ’n hele dag vir jouself het, verdwyn eenvoudig. Skakel jou selfoon af. Moenie die skoonmaakprojek aanpak wat jou die perfekte huisvrou gaan maak nie. Daar sal wel later daarvoor tyd wees.

Slaap laat. Lê in ’n warm bad totdat jou vingers verrimpel. Moenie een keer na die horlosie kyk nie. Doen iets waarvoor jy lankal lus is, al is dit om op die bank te lê en flieks kyk. Jy mag maar ’n bietjie “lui” wees!

Besoek jou gunstelingplek. Pas klere aan in ’n luukse klerewinkel. Kry ’n gesigbehandeling, ’n massering of jel-manikuur. Jy sal lekker ontspan en outomaties die ontspanne luim aan jou man en kinders oordra!

Hoekom nie romanties raak nie? Bespreek ’n kamer in ’n mooi hotel en probeer om elke moontlike oomblik saam met jou man te geniet. Maak of dit julle tweede wittebrood is – sonder kinders wat die volgende oggend al gillend op julle bed spring.

As julle so gelukkig is om ’n week af te hê, pak julle tasse en gaan hou vakansie. Tyd saam as gesin buite julle normale roetine is goeie medisyne.

As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs (Psalm 127:1).