Meer foute, meer sukses! Ja, sowaar!

0
162
geloof_1_leier.jpg

Is daar iemand wat na jou opkyk? Dan is jy in ’n leiersposisie. Dis dalk die negatiewe kant. Die positiewe kant is jy hoef nie ’n perfekte leier – een wat nooit ’n fout maak – te wees nie.

Nie net mense in belangrike posisies of met allerlei titels of prestasies agter hulle naam is leiers nie. Elke vrou by wie mense advies vra, is een. Of dit nou jou man, kind, vriendin, ma of kollega is wat na jou opinie luister: As jy leef wat jy glo, is jy ’n voordanser in die dans van die lewe.

Is jy seker jy wil ’n leier wees?

Hulle is gevaarlik. Hulle kan mense seermaak, hulle reageer soms sonder om te dink en soms laat hulle na om die regte ding te doen. Dis onvermydelik dat die neem van besluite dikwels ander mense sal teleurstel en kwaad maak. Die mees rasionele besluit wat ’n mens daarom kan neem, is om jou bes te doen om nie leiding te neem nie. Om liewer suutjies agtertoe te skuif en weg te kruip agter ander dansers wat lyk of hulle beter weet hoe om die dans van die lewe se ritme te volg.

In die besluit om nie die een te wil wees na wie mense opsien nie, is jy nie alleen nie. Die voorlopers wat God se volk moes lei, was baie onwillig. God het hulle opgespoor, maar mense soos Moses en Jona se eerste reaksie was om weg te kruip en weg te vlug. Mense het immers hoë verwagtings van die persoon wat die besluite neem en die koers aandui. Mense wil hê dat jy wat voor dans, so knap en kundig moet wees dat jou passies almal tot hoër hoogtes sal inspireer. Terselfdertyd moet jy ook so gewoon soos die res wees, sodat jy kan verstaan wie jou volgeling-dansers is.

Daarby moet jy aantreklik wees, goed kan skryf en praat, vinnig besluite kan neem, voorbeeldig lewe … Met soveel vereistes, wie sal haar hand wil opsteek om voor te kom dans, reg in die kollig?

Wat as die voordanser van die verhoog af val?

Hansie Cronjé was almal se held. Hy was die hoofseun van Suid-Afrikaanse sport, aantreklik, ’n sjarmante spreker, uitgesproke in sy Christelike waardes … Voorwaar ’n rolmodel vir elke Suid-Afrikaner, nie net vir krieketondersteuners nie. Die dag toe die media dit uitbasuin dat hy moontlik by wedstrydknoeiery betrokke was, was dit asof die hele land ’n vuishou in die maag kry. Onmiddellik was daar krete van protes. Dit kan tog nie wees nie! Hy is onskuldig! Hierdie held kan onmoontlik so feilbaar wees …

[pagebreak]

Maar hy was. In ’n hofsaak is hy skuldig bevind. In die openbaar het hy bely dat geld vir hom te aantreklik geword het. Hy was jammer, het gevra dat die Here en sy bewonderaars hom vergewe. Hemelse vergifnis het hy gekry. Menslike vergifnis net gedeeltelik. Dis asof mense dit maar net nie kon aanvaar dat hy nie volmaak was nie. In die krieketwêreld het die reëls dit ook verbied dat hy daar weer ’n rol kon speel. Hansie moes van nuuts af begin. Voordat hy behoorlik ’n nuwe blaadjie kon omslaan, het die dood hom egter kom haal. Wie hy sou gewees het, wat hy sou gedoen het en hoe hy weer sou opgestaan het, sal mense nooit weet nie.

In Suid-Afrika is Hansie nou die ikoon van die “mislukte leier”. Mense praat van hom as die een wat gefaal het. Leer by Hansie, sê ons vir mekaar. So moet ’n mens dit nié doen nie. Kyk nou net, dís wat gebeur as ’n mens swak is en eintlik nooit ’n rolmodel moes geword het nie. Die mense na wie ander opsien, mag mos nie fouteer nie … of mag hulle?

Wat verwag God van jou as mense na jou opsien?

Die Skepper van die heelal noem Homself in die Ou Testament “die God van Abraham, Isak en Jakob”. Jakob, die seun van Isak en die pa van Josef, bevind hom in die mees uitgelese geselskap. Maar was hy nie ook by allerlei gruwelike gebeurtenisse betrokke nie?

Jakob was ’n opportunis wat geleenthede uitgesnuffel het waaruit hy voordeel kon trek. Hy het sy eie broer, ma, pa en oom gemanipuleer en bedrieg om te kry wat hy wou hê. Hy het sonder huiwering met ’n vrou getrou net om by sy eintlike geliefde uit te kom. Hy was so ’n vrot pa dat sy seuns so moedeloos geword het met die voortrekkery van een van hulle broers dat hulle dié broer wou doodmaak.

Na ’n stoeigeveg met ’n Vreemdeling wat hom op sy heup geslaan het, was Jakob letterlik mank en was hy ook figuurlik mank aan allerlei swak karaktereienskappe. Tog het God hom gekies. Geen mens sou kon voorspel dat so ’n hinkepinkende voordanser verkies sou word nie. Jakob wys vir ons die hemelse goedheid wanneer ’n swak mislukkeling geseën word.

God hou van mense wat foute maak! In Sy oë is Hansie ’n sukses. Hansie is ’n voordanser na Sy hart, want Hansie was soos Jakob iemand wat sy foute en swakhede aanvaar het en openhartig was daaroor. Dis amper asof ’n mens kan sê: Die hoofsondaar wat kan erken sy maak foute, is die beste rolmodel. ’n Ma (eggenoot, vriendin, bestuurder, kollega) wat werk maak van haar feilbaarhede, kan mense positief beïnvloed en hulle respek wen.

Om te erken jy maak foute, maak jou sterker en meer suksesvol in wat jy wil bereik. Hoe meer ’n mens jou swakhede probeer wegsteek, hoe meer onseker voel jy en hoe meer moet jy mense probeer oorheers. Dan dans hulle weg van jou af.

[pagebreak]

Om voor te dans se ritme is nou anders

Die redes waarom mense liewer nie besluite neem of hulle opinie uitspreek nie, is nou vanuit God se perspektief nie meer vreesaanjaend nie.

KRISISSE is klein ontploffings van chaos wat gelowiges daaraan herinner dat hulle nie in beheer is nie. ’n Krisis is ’n geleentheid vir groei, maar ook soms ’n oomblik van “ek kan nie meer nie, al is ek die vrou wat moet sterk staan en ’n besluit namens ander moet neem”.

Die hinkepinkende voordanser weet nie altyd of wat sy tydens ’n krisis besluit, reg of verkeerd is nie, maar sy weet sy mag vrae vra, bid vir hulp en mense se advies vra. Sy hoef niks te bewys nie, net ’n besluit te neem wat vir haar na die beste oplossing lyk. Almal weet mos klaar sy is nie perfek nie.

KOMPLEKSE KEUSES maak dat ’n mens soms voel jy wil weghardloop eerder as om ’n netjiese danspassie vir ander te wys. Watter ma weet dadelik op watter ouderdom sy haar kind met die internet kan vertrou? Hoe gemaak met werksfunksies waar mense partytjie hou op maniere wat anders is as wat jy en jou man glo?

As hinkepinkende voordanser kan jy ’n sug van verligting slaak. Jy hoef nie swart-en-wit antwoorde wat vir ewig geldig is, te bedink nie. Maak jou hart oop vir alternatiewe vir verskillende persone en verskillende omstandighede. Luister na ander mense se voorstelle en bly nederig omdat jy weet die lewe het sy grys areas. Vir verskillende kinders kan ’n ma verskillende reëls oor internetgebruik hê en een funksie woon ’n vrou saam met haar man by en na ’n ander een stuur sy hom alleen. Al wat ononderhandelbaar is, is die liefde vir God en die naaste as die maatstaf vir besluite.

EENSAAMHEID is deel daarvan om iemand te wees na wie mense opsien. Nie almal wat saam dans deur die lewe, is gemaklik met jou as die een wat voor dans nie. Die besluite wat jy neem, sal sommige mense van jou af wegstoot.

Dis onvermydelik om soms alleen te voel, maar dit is nie ’n kruis wat jy moet dra nie. As jy openhartig kan erken dat jy nie alles weet nie, nie altyd verstaan nie en soms verkeerd doen, is daar juis geleentheid vir mense om sáám met jou te huil en te lag, sáám te wen en te misluk, vriende te wees wat saam swaarkry en saam vreugde in mekaar vind. Soos Hansie dit na sy bekentenis ook ervaar het.

UITPUTTING is die noodwendige gevolg van só dans dat ander mense ook weet waar en hoe hulle moet dans. Jou stres, vol program en baie verpligtings maak jou grys voor jou tyd.

Maar die hinkepinkende voordanser is bereid om te erken dat sy nie alles kan doen nie en nie alles hoef te doen nie. Sy bevry haarself van die reël wat sê dat sy vandag meer moet doen as wat sy gister gedoen het. Die mooi van mank-wees (soos Jakob) is dat dit jou dwing om stadiger te beweeg en verhoed dat jy so baie dinge doen as wat jy sou wou doen.

Dit is nie vir alle mense ewe maklik om eerlik te wees oor wie hulle regtig is nie. Dalk is dit vir vroue effens makliker om hulle broosheid te wys vir almal wat na hulle opsien. Mense behoort niks meer en niks minder van hulleself en hulle leiers te verwag as om te struikel, foute te maak, dit te erken en dan te weet ons het genade – en mekaar – nodig nie.

GESELS SAAM op die Voelgoed Forum Hoe maklik erken jy jou foute? Maak jou hart oop op vrouewatglo.co.za – waar jy sal ontdek dat jy nie alleen is nie.

Vertaal en verwerk uit Dan B. Allender se Limping Leader, The Summary.

Wil jy verder lees? Liefling, Liza Brönner vertel hoe sy haar roeping in die tronk ontdek het.