Mej. SA: ek was bestem om te wen

0
122
Rolene_Strauss.jpg

Eers met die tweede probeerslag het Rolene Strauss die kroon gewen. 2011 was nog nie haar tyd nie.

Dit was by die gholfklub van Volksrust, die bymekaarkomplek van die dorp. Ek was nege jaar oud, een van die baie kinders wat rondom die grootmense gespeel het. En skielik was sy daar: hierdie pragtige wese wat skoonheid uitstraal. Daardie Desember het ek op TV gesien hoe sy as die mooiste in die land gekroon word en hier is sy so naby aan my dat ek aan haar kan raak, met haar kan praat, selfs ’n foto saam met haar kan neem.

Jo-Ann Strauss het my geïnspireer om eendag Mej. Suid-Afrika te word. Vir my kinderverstand was dit net ongelooflik dat sy heelpad Volksrust toe gekom het om met ons te kom praat. Ek het besluit dat ek eendag daardie einste kroon sal dra.

Alle ouers dink mos hulle kinders is mooi, en my ma het ook so gedink. Die eerste kompetisie wat ek gewen het, was die Mej. Meermin-kompetisie in Hartenbos. Verder het ek nie eintlik enige opleiding gehad nie behalwe toe ek as tiener vir ’n landswye modelkompetisie ingeskryf en dit gewen het.

As sestienjarige was dit vir my die ultimate. Dink net, in die stad van liefde en mode gaan ek ’n model wees. Wat ’n ontnugtering! Dis daar dat ek besluit het ek wil eerder ’n rolmodel as ’n model wees. Laasgenoemde het net oor die uiterlike gegaan. Hulle was meer behep met die voorblad van die boek as met die storie wat jy het om te vertel.

Ek het altyd gewonder hoe dit werk dat party mense mooier is as jy hulle van naby sien terwyl ander jou teleurstel. Dit is waar innerlike skoonheid ’n rol speel. Ek weet dit klink miskien soos ’n regte Miss Congeniality-antwoord, maar skoonheid gaan vir seker oor die mens binne daardie uiterlike dop.

Natuurlik moet die voorblad van die tydskrif mense lus maak om jou storie te lees, maar in die vreemde het ek skielik geweet: Ek wil my storie vertel, my storie as Suid-Afrikaner. Eintlik is ek bly my oorsese ervaring het so vroeg gekom. Alle illusies oor groener weivelde oorsee het verdwyn en ek kon op die Mej. Suid-Afrika-titel fokus.

In 2011, die jaar toe Melinda Bam gewen het, het ek die eerste keer probeer. Ek was onder die topvyf finaliste, maar het dit nie gemaak nie. Natuurlik was dit sleg om te verloor; niemand skryf immers in as jy nie dink jy kan wen nie, maar ek het nie eers gehuil nie. Toe ek vanjaar as die wenner aangekondig is, was dit vir my bittersoet omdat ek presies geweet het hoe die meisies om my voel. Maar ek het ook geweet watter groei daar op hulle wag.

Ek glo daar is ’n tyd vir alles en 2011 was nog nie my tyd nie. Vanjaar was ek egter honderd persent oortuig ek gaan wen. Dis eintlik maar die enigste manier hoe jy hierdie kompetisie kan aanpak. Onthou, jy kompeteer teen elf pragtige vroue en jy moet in jouself glo. Jy probeer hard om jou nie met die ander te vergelyk nie, maar dis menslik dat jy dit wel gaan doen.

Dieselfde Rolene wat in 2011 aan die kompetisie deelgeneem het, het vanjaar ingeskryf. Ek is nog steeds ek, maar waar ek die vorige keer meer op die uiterlike gefokus het, het ek hierdie keer aan my emosionele en geestelike kant gewerk. In 2011 het ek ge-gym en my arme vriendinne moes heeltyd met my Engels praat, maar nou het ek daarop gefokus om nederig te wees, hard te werk, sulke goed. Miskien het dit die verskil gemaak.

Ek het nog altyd geweet Mej. Suid-Afrika is in my destiny, maar ek wou ook ’n dokter word. Vir my was hierdie twee drome teenstrydig totdat die Here vir my gewys het dat albei oor mense en oor gee gaan. Vandag glo ek ek kan beide gebruik en kombineer om aan ander uit te deel.

Lees Rolene se blog hier