Melinda Bam se goue lyf sonder sonskade

0
197
melinda_bam.jpg

Melinda Bam, voormalige Mej. Suid-Afrika en deesdae mede-eienaar van die onderneming Model Mentality, vertel hoe sy haar lyf strandgereed hou in die vakansietyd.

Daar is min dinge wat my so goed laat voel as om in die natuur te wees. Ek en my kêrel, Adriaan, is lief vir draf, fietsry en gholf. As ’n mens ses uur op jou fiets deurbring soos met ons toer van Sun City tot in die Kaap, moet jy omtrent in sonskerm bad om nie aardige sonbrandlyne te kry nie, en jy moet ook jou hare teen wind en weer beskerm. My ander wenke as jy mooi wil lyk in die buitelug is …

Dra ʼn getinte bevogtiger in plaas van onderlaag as jy die dag buite is, maar nog jouself wil lyk. As ek gaan gholf speel, weet ek dat daar altyd baie foto’s geneem word, maar ek wil nie my vel straf om lug te kry nie. Só kan ek aanvaarbaar lyk en steeds goed wees vir my vel.

’n Sonbruin voorkoms is een van my kenmerke … Ek gebruik deur die jaar selfverbruiningsroom omdat ’n sonbed nie die skade werd is nie. As die somer aanbreek, is ek geseënd dat ek ’n vel het wat baie maklik bruin word in die son, maar ek sal dit altyd doen met ’n sonskerm elke dag. Selfs al is dit die SBF6 van Piz Buin, wat ’n verbruiner is wat jou vel beskerm. En haal selfverbruiner van geel gevlekte hande af met Handy Andy.

Stadig bruin is langer bruin … Wat ek hiermee bedoel, is dat jy nie moet probeer om op die eerste dag jou hele wintervel weg te sonbaai en dan soos ’n kreef te lyk nie. Ek onthou die een vakansie wat my pa lekker in die son gelê het en bloedrooi geraak het, terwyl my ma elke dag onder die sambreel gelê het en bruin geword het. Aan die einde van die vakansie het my pa vervel en al die kleur afgegooi, maar my ma was ’n mooi diepbruin sonder ’n dag se seer brand.

Dra jou hare in fases, dit beskerm jou hare teen te veel was en stileer, dit bespaar jou tyd en moeite en jou voorkoms lyk boonop veelsydig. Op dag 1 dra jy jou hare mooi reguit geblaas. Op dag 2 gee jou hare ’n effense krul met ’n krultang. Teen dag 3 kan jy jou hare voor en bo vasgesteek dra met haarknippies, nog steeds met die oorblywende golwing van die vorige dag. En op dag 4 dra jy ’n stywe bokstert of groot bolla op jou kop.

Melinda se foto deur jacques du preez. Produkfoto’s verskaf