Meng versigtig, roer gereeld … en onthou!

Dalk het dit iets met ouer-word te doen, dié manier om deesdae in elke klein dingetjie die een of ander vorm van nostalgie raak te sien: dinge wat die moeite werd is om te bêre, of ten minste te onthou.

Al span ek gereeld my foon of rekenaar in om vinnig 'n resep op te spoor, bly ek ook baie lief vir my getroue resepteboeke uit die tagtigs en vroeë negentigs. Ek het nog 'n stokou "Kook en Geniet" wat ek as trougeskenk gekry het - dis nog in klein formaat en ek het in my jong dae gedink dit lyk min of meer soos 'n Bybel, en bevat amper net soveel goeie raad.

'n Groot gunsteling is egter 'n lêer met my eie resepte van oral: die meeste het 'n nota wat verduidelik wat die oorsprong van die resep is. Baie resepte is in die handskrif van die persoon by wie ek dit gekry het. Dit is so kosbaar! Hier en daar is 'n merk op 'n bladsy - 'n stukkie deeg het geval, of olie het gespat - al is ek sorgsaam met my boeke, ongelukkies gebeur. By heelparty resepte is notatjies wat ek bygeskryf het as waarskuwings, of sommer uit pure beterweterigheid. "Gebruik 'n groot bak, anders bemors dit die oond!" "Gebruik minder suiker!" " ...dis te 'soppy'..." "Dit brand maklik, roer heeltyd!"

Terwyl ek nou die dag ‘n beskuitmengsel aanmaak volgens ‘n resep wat ek jare gelede by my sus gekry het, besef ek dat ek deur die jare eintlik al baie daaraan verander het - ek het die semels met muesli vervang, die suiker minder gemaak, maar vir my sal dit maar altyd  “Ans se soetmelkbeskuit” bly.

Nou dink ek - dis mos hoe die lewe ook is: 'n groot versameling van oud en nuut, vanuit allerlei verskillende plekke en situasies. Ongelukke gebeur, en die merkies wat dit nalaat, doen nie afbreuk aan die geheel nie. Inteendeel! Die beste resepte is dié waaraan so 'n bietjie getorring is, maar dieselfde resep werk nie vir almal nie ... waar ek minder suiker wil gebruik, wil 'n ander ou dalk méér ingooi! Tog, dis goed om te onthou dat alles nie altyd dadelik 'n sukses is nie, en die waarsku-notatjies kan help om onnodige einas te voorkom (as ek tog maar die eerste keer geweet het, of dalk net mooier gedink het!). Dit help partymaal om vooraf te weet as iets (of iemand) 'soppy' is. Party verhoudings benodig ‘n vinnige of gereelde roer, en sekere situasies brand só maklik aan ...

Die verskeidenheid, en elkeen se unieke oorsprong en storietjie, maak die versameling besonders. En ja, die meeste resepte het ek by ander mense gekry, maar my eie bydrae, vanuit mý ondervinding, is darem ook belangrik, of hoe?

DEEL
Vorige artikelMaalstrome en storms
Volgende artikelDie soeke na ‘n ‘kapper’...!
Blogger - Christa Grobbelaar
Christa Grobbelaar is ‘n mamma van twee volwasse dogters en ‘n juffrou van honderde. Sy en haar man, Willem, is albei onderwysers. Haar onderwysloopbaan het grootliks daaruit bestaan om vir kinders Engels te leer, maar haar graad in Sielkunde het altyd handig te pas gekom. Sy het na ‘n vroeë aftrede vir een semester in Thailand gaan skoolhou en doseer nou deeltyds Afrikaans en Engels vir onderwys- en joernalistiekstudente. In Thailand het sy met ‘n blog begin as teenmiddel teen die verlange na Suid-Afrika, maar geniet dit steeds om met die blog voort te gaan. Dié persoonlike blog, Christastories, is te sien by christainthailand.wordpress.com