(Mens-)boeke en baadjies

Moenie ‘n boek op sy baadjie takseer nie. Dit is nogal ‘outydse’ Afrikaans – die hele ‘takseer’-ding klink vir my alteveel na wat Jan Taks met my doen.

Maar die idioom is welbekend en dit is een van dié wat ons baiekeer gebruik sonder om regtig te diep daaroor te dink.

Kom ons wees eerlik: enigiemand wat al tyd in ‘n boekwinkel of biblioteek deurgebring het, weet dat ons wél boeke op hulle baadjies takseer – of is dit net ek wat, nadat ‘n titel my effens geprikkel het, die boek uit sy staanplek glip en dan heel eerste na die omslag kyk: die kleure, die lettertipes, die ontwerp … en dan draai ek dit om en lees die agterkant (wat per slot van rekening tog ook deel van die baadjie is!) voordat ek besluit of dit die toets deurkom?

Waarop ánders gaan ek ‘n boek takseer? Die skrywer se reputasie? Resensies? Omstredenheid? Ek betwis nie dat hierdie ook punte is wat oorweeg kan word nie, maar die baadjie … ai, die baadjie bly maar belangrik. Eerste indrukke tel – en ek het al op wonderlike boeke afgekom deur juis dit te doen – die boek op sy baadjie te takseer. ‘n Mooi boek is nou maar eenmaal mooi!

Só kies ons ook die mense waarmee ons onsself omring: soms omdat hulle mooi is, of interessant lyk of klink. Ander kies ons oor ons van hulle gehoor het, en dan kom ons dikwels agter dat die resensente ook maar nie geweet het nie … Partykeer, net soos met boeke, maak ons kosbare vriende op grond van ander se aanbevelings, of juis omdat ander hulle nie meer wou hê nie. Partykeer gebeur dit net, en agterna kan ons eintlik nie sê presies hoe dit gebeur het nie.  Daar is boeke wat ek na verskeie probeerslae net nie kon klaarlees nie. Nes mense.

Maar hoe ookal – elkeen het sy mens-versameling wat op verskillende maniere bymekaargesit is. Van tyd tot tyd dun ons uit, ruil om, gooi weg en vernuwe … daar is oues waarna ons kort-kort teruggaan, al is dit net om ‘n klein stukkie te lees of selfs net vinnig die ou, bekende reuk in te asem.  Elke nuwe een is ‘n vreugde en ‘n avontuur, en die kombinasie is uniek en dinamies.

Lekker. Maar moenie vir my vertel die baadjie is nie belangrik nie…