Menseregtedag

0
684

Dit is vandag Menseregtedag. Hierdie dag het ʼn hartseer geskiedenis in die land. Maar ons is bevoorreg om vandag Menseregtedag te kan vier en dat elkeen van ons ons op bepaalde basiese menseregte kan beroep.

Maar hoe kyk ek as Christen na hierdie dag? In die eerste plek hoort ek nie net my eie regte te beskerm nie, maar ook die regte van ander. Dit raak my wanneer ander mense se regte geskend word. Dit behoort ook my te raak wanneer kinders in Limpopo nie handboeke in die skool het nie. So as gelowige is ek ook besorg oor ander mense se regte.

Tog, vir my as gelowige, voel ek soms baie ongemaklik met “regte”, en wat my eie lewe betref, wil ek my eerder verheug oor my voorregte. Ek wonder soms of ons nie dalk minder dankbaar is oor die “voorregte” wat ons geniet, juis omdat ons dit as ons “regte” beskou nie. Uit ʼn politiese oogpunt kan ek verstaan waarom daar sekere “menseregte” moet wees, en ek kan dit ook verstaan vanuit ʼn wetlike oogpunt, en wanneer ek vanuit ʼn historiese oogpunt daarna kyk, kan ek ook sien watter wreedhede al gebeur het wanneer basiese menseregte nie verskans word nie. Maar wanneer ek vanuit ʼn godsdienstige oogpunt daarna kyk, voel dit tog vir my of ons ’n stuk dankbaarheid verloor wanneer ek sekere dinge as “regte” sien. Dalk is dit omdat ek ouer word, maar in hierdie fase van my lewe is ek so intens bewus van voorregte wat ek uit God se hand ontvang. Kom ek gee dit sommer die Bybelse naam van “genade”.

Ek is vandag so dankbaar teenoor die Here vir ʼn blyplek, vir water in my huis, vir ʼn werk, vir kos, vir gesondheid, vir ʼn wonderlike gesinnetjie, vir die feit dat my gesinnetjie selfs uit ses kleinkinders bestaan, vir vrede in die land, ag, sommer net vir elke dingetjie wat my lewe so volmaak! Dankie Here!

Ek wil ook vandag die woorde uitroep wat Paulus in 1 Tim. 1:14 uitgeroep het toe hy gesê het: Ons Here het my oorlaai met sy genade!