Met aanbidding leef sy passievol

0
222

Christelle Combrink, oftewel KrissTel, soos haar verhoognaam lui, het ’n passie vir lof- en aanbiddingsmusiek. Sy wil vuur in die harte van God se kinders insing.

Ek het maklik aangepas by die plaaslewe… op Carolina. Ek en my skoonsus werk saam as ’n span en is verantwoordelik vir die gaste en events wat ons aanbied. Hier kom baie gereeld besoekers en al hou ek daarvan om tussen mense te wees, het ek ook tyd alleen nodig. Die grootste uitdaging van ’n plaas is die ver ry as ek by kerke en funksies moet gaan sing.

Om baie weg van die huis af te wees… bring uitdagings vir ons huwelik. My vertonings word lank vooruit bespreek en ek is nie altyd by die huis wanneer ek daar nodig is nie. ’n Skaapboer kan ook nie na willekeur weggaan nie. Deesdae sorg ek egter dat ek minstens een naweek ’n maand by die huis is, en my man kom elke maand na een van my optredes toe. Ek is darem ook gewoonlik in die week by die huis.

Ons het al deur diep waters gegaan op ons huwelikspad… maar dit het ons geleer om oor alles te praat. Geheime bring afstand, afstand bring onsekerheid en dit steel intimiteit. Nou weet ons dat dit belangrik is om ’n ruimte tussen ons te skep waar dit oukei is om enigiets te bespreek. Glo my, dit het baie seermaak en seerkry gekos om tot hier te kom.

’n Moeilike tyd in my lewe was in 2013… toe my pa verongeluk het. Bo op die seer van sy dood het die bank se eksekuteur gesloer met die waardering van die erfstukke in die boedel, en ’n jaar later het sy huis met alles van waarde vir ons vier kinders afgebrand. Ek het so magteloos en kwaad gevoel. Wanneer jy op jou laagste is, weet jy jy moet alles aan God oorgee en vertrou dat Hy in hierdie slegte dinge als ten goede sal laat meewerk.

Dit is vir my belangrik om… ten volle myself te wees, te weet wie ek is, en gelukkig te wees. Om myself te bemoei met wat ander tevrede sal hou is 'n onbegonne taak. Ek bewaar graag die vrede, maar nie as dit my as mens afbreek nie.

Dis vir my belangrik om wat ek het, te deel… met ander, veral met die gemeenskap! Daarom hou ons een maal ’'n kwartaal ’n lekker event op die plaas waar ’n live band vir ons goeie musiek maak en almal lekker saam kuier. Daar is nie veel wat gebeur in ons klein dorpie nie, en ons het die fasiliteite en resources. So dit is vir ons baie lekker om iets aan te bied wat die gemeenskap stig.

My liefde vir musiek stop nie by die kerk nie… Ek is ook lief daarvoor om sommer net life and love songs sing in ’n musiekstyl waaroor ek mal is. En op groot verhoë met my eie band en backing vocals op te tree. My geheime droom is om ook in die sekulêre engelse mark ’n verskil te kan maak. Ek het al in 2013 begin om stuk-stuk liedjies op te neem en sal beslis vorentoe in die jaar die album aankondig. Ek is ook deel van die lof en aanbiddingsgroep Duis:Lig saam met Hennie Maritz, en is vreeslik opgewonde oor wat God als deur dit doen vir my persoonlik en ook waar ons beweeg. Ons kry te doen met baie tradisionele asook baie charismatiese gehore en sien God werk in elke opset. Dit wys vir ons dat God besig is met elke denominasie en non-denominasie… Hy het ’n plan met ons almal! Dit is ’n voorreg om so wyd blootgestel te word aan hoe en waar God oral werk. Ek leer en groei daardeur.