Met Vlieënde Vaandels

Geselsies in die motor na eksamens het gewoonlik so verloop.
Ma: “Seuns hoe het julle vraestelle verloop?”
Seuns: “Goed” en so het hulle die onderwerp verander na krieket, rugby en ander gebeure… My ma het gewoonlik bekommerd haar kop geskud.

Maar wanneer my ma aan my dieselfde vraag gerig het, het ek seker tien maal oor die kleinste besonderhede gegaan. Gekla oor my onvermoeë. Ek het elke vraag bespreek, gewonder waar ek miskien beter kon gedoen het, harder kon gestudeer het. My ouers het my gewoonlik gerus gestel, omdat hulle geweet het dat my rapport die teendeel sou bewys het.

Op die ou end het ons al drie kinders matriek geslaag en nie een van ons het beter of slegter as die ander een by die skool se deure uitgestap nie. In kort, my oordenkinge, bekommernisse, my ma se ore lam gepratery het my nie een ekstra punt in die sak gebring nie.

So, wat was die verskil? My boeties was bietjie meer selfversekerd as ek, hulle het gedoen wat hulle kon doen en aanbeweeg na hulle volgende doelwitte toe. Ek het ure gesit en top oor iets wat ek nie kon verander het nie. Ek het konstant daaroor gepraat want ek het my ouers se bekragtigende woorde nodig gehad om my meer selfversekerd te laat voel.

Hierdie is nog steeds, jare later, van toepassing. Hoeveel maal herhaal ons nie ons besluite van die verlede in ons gedagtes nie? Hoeveel maal wonder ons nie of ons nie dalk iets kon verander het nie. Ons buig soms letterlik vriende en familie se ore net sodat ons iemand se goedkeuring kan kry en meer selfversekerd kan voel. Ons sit letterlik vas in ons verlede en besluite en beweeg nie vorentoe nie.

Op die ou end was al my bekommernisse nie die sous werd nie, want ek het elke eksamen, waaroor ek so onnodig oor bekommerd was, met vlieënde vaandels geslaag. Jy kan nie die verlede verander nie, die toets weer oorskryf nie. Meeste van jou bekommernisse word nooit ‘n realiteit nie. Weet vandag – jy is genoeg en dat jou krag lê in stil wees en in die vertroue dat Hy wat die werk in jou begin het, dit sal voleindig.