Met wie gesels hulle aanlyn?

281

Jy weet met wie jou kinders maats is by die skool, maar weet jy ook met wie hulle so lekker op die internet kuier?

Dit gebeur gewoonlik heel onskuldig. Daardie interessante ou of meisie stuur ’n vriendskapsversoek. Sonder om te dink, word “bevestig” gekliek, want watter tiener wil nie baie likes en vriende op sosiale media hê nie?

Skelms op die internet wil jongmense se onskuld steel

Al die reëls kan daar wees om die kroos te beveilig, maar dit kos net een persoon om te sê: “Gaan loer ’n bietjie hier,” en die skade is gedoen. Die onskuldige outjie is blootgestel aan pornografie of ander skadelike materiaal.

Party mense is daarop uit om met minderjariges te connect – nie om vriende te wees nie, maar om hulle onskuld te steel.

Baiekeer wil hierdie skurke pornografiese materiaal in die hande kry om dit op hulle netwerke te plaas. Dit is baie belangrik dat jou kind moet weet dat géén foto’s wat haar later in ’n ongemaklike posisie kan plaas, op die internet gedeel moet word nie.

Speletjies is nie so onskadelik soos dit lyk nie

Wat ’n fantastiese wêreld gaan nie voor ’n mens oop as jy op die Xbox klim en in ’n ander wêreld verdwyn nie! Maar selfs hierdie “onskuldige” tydverdryf moet gekontroleer word.

Daar is ’n organisasie met die naam Peggie wat na ouderdomsgepaste speletjies kyk. Neem asseblief die ouderdomsbeperkings in ag en maak seker dat jou kinders hulle met die regte dinge besig hou.

Natuurlik gaan hulle beswaar maak en sê “almal” doen dit. Dan moet jy verduidelik dat daar soms immorele goed in speletjies plaasvind en inligting gedeel word waarvoor iemand van daardie ouderdom dalk nog nie gereed is nie.

As verantwoordelike ouers moet ons seker maak ons kinders verstaan die risiko’s en weet wat die ouderdomsbeperkings is. ’n Speletjie wat aanlyn gespeel word, stel hulle bloot aan die hele wêreld. Hulle speel saam met ’n klomp onbekende mense; daarom is daar gewoonlik ’n ouderdomsbeperking van 18.

Hoe help ek hulle die regte besluit neem?

Daar is ’n verskil tussen die twee “V’s”: vriende en vreemdelinge. Voorheen kon ’n vreemdeling nooit ’n vriend wees nie. Jy was nie vriende met mense wat jy nie kon sien nie. ’n Vriend was iemand wat jy na jou huis toe kon nooi waar julle saam kon speel, eet en kuier.

In hierdie digitale wêreld waarin ons leef, is dit net nie meer realisties nie. Hoe nou gemaak? Google kan ons help! Gaan doen ’n soektog en probeer daardie persoon se naam opspoor en vind uit hoe hy of sy regtig lyk.

Kyk ook na ander digitale platforms om te sien of so iemand regtig bestaan en of hy dalk agter ’n 17-jarige se foto skuil.

Wanneer daar reeds ’n verhouding gebou is, is dit goed om te Skype of ’n video-oproep te maak sodat julle kan sien of dit werklik die persoon is.

Dit is belangrik om seker te maak jongmense is bewus van die gevare van ’n digitale vriendskap. Leer hulle hoe om self uit te vind wie die ander persoon regtig is en dan verantwoordelik op te tree.

Kinders mag maar lekker speel, maar jy as ouer moet altyd die vangnet wees deur op die hoogte te bly.

RIANETTE LEIBOWITZ, SaveTNet Cyber Safety

Kliek hier vir meer digitale ouerskap met Rianette Leibowitz.