Metamorfose is morsig

Verandering op sigself is nie eenvoudig nie. Metamorfose is morsig op sy beste!

‘n Gedaanteverwisseling is nie vir sissies nie. Vra enige ma wat haar eersteling die wêreld inbring, enige iemand wat van beroep verander of enige mot wat die transisie na vlinder wil maak!

Maak nie saak hoe wonderlik die vorige staat waarin jy verkeer het was nie, transisie skop normaalweg af met daardie senutergende gevoel dat die wêreld soos ons hom geken het, nou onherroeplik verby is. Soos ‘n swanger vrou maak mens spasie in jou gemoed, in jou studeerkamer en in jou beursie vir die nuwe saadjie wat nou tot menswees moet groei. Die paadjie van jou ou realiteit tot in jou nuwe realiteit is besaai met misverstande, onkundigheid, ongemaklikheid, vrese en blapse.

So in my transisie voel ek oorweldig met die enormiteit daarvan teen einde Desember, verlede jaar. Ek stel doelwitte wat my rek, maar nie te diep in die diepkant ingooi nie. Vlinders is mooi, maar dit kom nie maklik nie! Einde Februarie is ek geskok om te besef hierdie mot het sopas haar status na vlinder opgradeer!

Ek word herhinner aan die ‘Ocean Basket’ storie waar Jesus die lightie se lunch vir twee in lunch vir duisende omskep. Johannes 6:5-6 in die Message parafrase stel dit so: ‘When Jesus looked out and saw that a large crowd had arrived, he said to Phillip, “Where can we buy bread to feed these people?” He said this to stretch Phillip’s faith. He already knew what He was going to do.

Is dit nie gerusstellend dat jy goeie geselskap het terwyl jy spartel uit jou mot-gedaante in jou vlinder-vlerke nie? Jesus weet reeds wat Hy wil doen in jou transisie en dit gaan jou geloof strek!