Mevrou Doeminie en die haatpraters

Lyk vir my dat dit nou hoogmode is om jou stem nie net op stemdag te laat geld nie, maar sommer net waar jy lus het op sosiale media, want jy kan mos.

Ek weet nie wie voel nog so nie maar ek is dikker as dik vir die ewige haatpraters. Dis die ouens met ʼn selfsugtige, onnoemenswaardige, onnodige en onkundige mening oor alles: van hoe om jou kat se sandbak skoon te maak tot wie het die reg om die hemelpoorte te bewandel. Regtigwaar, ek is nou keelvol.

Iemand adverteer byvoorbeeld op die koerant se blad dat sy ʼn nuwe huis soek vir ʼn mooi opregte hondjie. Voor jy jou kon kry, is almal met messe en swaarde op die arme vrou. Weet sy nie ʼn hond het ʼn siel nie? Hoe kan sy so sleg wees om ʼn hond soos ʼn stuk niks weg te gee? Niemand weet eens haar omstandighede of redes nie. Net kritiek en aanvallende woorde. Uiteindelik het sy ʼn wonderlike huis gekry by iemand met dieselfde hond as die een wat sy moes weggee.

Aggenee man mense, wie gee jou oor sosiale media die reg om ʼn mening te lug oor EEN sin wat iemand anders uiter? Jy het GEEN idee waaroor dit gaan nie of hoe ʼn tipe mens dit is nie, nee, net jou hoogdawerende siening wat alles oorheers. Niemand stel daarin belang nie. Glo my. Jy kan jou negatiewe praatjies maar eerder in iets positiefs omskep en jy sal sien hoe jou eie lewe ook verbeter.

Wat van ons probeer in die nuwe jaar ʼn slag EERSTE soek na iets positiefs om te sê eerder as om onmiddellik negatief te reageer? Ons land het oorgenoeg negatiewe mense wat op hol gaan met enige storie. Kom ons wees deel van die oplossing. Wat van jy soek sommer elke dag vyf mense vir wie jy sommer net ʼn mooi kompliment gee – op sosiale media maar ook sommer net so in die verbyloop. Elke mens wat jy sien smag na aanvaarding, om raakgesien te word en om opgebou te word. Kom ons probeer net.

Vorige artikelHeilig is mooi!
Volgende artikelBederf – uit my hoek
Blogger - René van Zyl
René van Zyl is 'n oud-joernalis, skrywer (boeke, teater), blogger en kinderwerker. Sy skryf hoofsaaklik lekker interaktiewe kinderkerk materiaal, wat die Bybel van voor tot agter met geheueptrente of speletjies deurwerk. René is 'n regterbrein, buite-die-boks denker; getroud met 'n net so buite-die-boks predikant, Anton. Hulle het twee dogters, Michelle (21) en Chantal (18) en ’n breingestremde seun, Sean-Jacques (23). Hulle lang pad van trane, lag en genade het haar geleer om die lewe en sy reëls nie so ernstig op te neem nie. www.renevanzyl.blogspot.com www.bybelboekwurm.blogspot.com