Mevrou doeminie en die kersfeeshaters!

Kyk, elke jaar hierdie tyd begin facebook oorloop van stories oor hoe vieslik en sleg Kersfees is.

Toe ek dus nou die eerste van die klaagliedere op sosiale media sien, het ek besluit om weer eens my mond WYD oop te maak.

God werk met die mens en sy omstandighede en gewoontes – Hy het regdeur die Bybel ou (selfs heidense) gebruike nuwe betekenis gegee – soos byvoorbeeld die reënboog wat ʼn oorlogteken was. Hy het dit verander na ʼn teken van hoop en ʼn nuwe verbond met ons gesluit. En die vloekhout wat vir die Jode ʼn vieslike ding was, het God nuwe betekenis gegee: hoop en verlossing. Vandag is die kruis vir alle Christene ʼn teken dat God in beheer is.

Selfde met Kersfees (oftewel Christusfees) – iemand skryf nou op facebook dat ons DOM Christene eintlik die geboorte vier van afgod Baal op 25 Desember. Ek sê ek vier my Jesus se verjaarsdag (al is dit nie histories die presiese dag nie) want dit is die nuwe betekenis wat Christene lank terug aan die dag gegee het – en kyk hoeveel hoop, liefde, welwillendheid, diensbaarheid en vreugdevolle gesinstyd sien ʼn mens op die dag.

Die eintlike storie van St. Nicholas – die man met die wit baard is net so mooi: Hy was ʼn biskop wat in die vierde eeu geleef het en wie se ouers hom ryk nagelaat het. Hy was ʼn vriendelike man met ʼn reputasie dat hy armes gehelp het en geheime geskenke gegee het aan mense wat dit nodig gehad het. Selfs het hy eenkeer ʼn sakkie geld deur die skoorsteen van arm mense se huis gegooi en dit land toe in die kouse wat hulle voor die kaggel gehang het om droog te word. Siedaar – ʼn mooi tradisie is gebore.

Selfs die kersboom verteenwoordig geestelike groei, die liggies is God se lig wat ons aan die wêreld uitdra, en geskenke is ons manier van gee: Gee, want jy het en ander het nie. Gee, want God het sy Seun gegee. Gee omdat jy geseënd is en omdat jy het om te gee. Dis mos die God wat ons dien. Onvoorwaardelike liefde en NIE alewige oordeel, haat en negatiwiteit nie.

Geniet hierdie Christusfees met liefde en vreugde!