Mevrou Doeminie en die roomysmonster

Was jy al ooit so lus vir iets lekker – sê nou maar ʼn roomys, maar die manier hoe die onentoesiastiese verkoopsdame haar werk doen, maak sommer dat jou lus in pure frustrasie oorslaan?

Dit gebeur met my en ʼn vriendin toe ons opgewonde soos kinders in Italië van die lekkerste roomys in die wêreld – en vrek duur – bestel in ʼn klein dorpie wat jou aan ʼn Middeleeuse verhaal laat dink. Ons moet uit tientalle geure kies. Elkeen lyk mooier en romeriger as die ander een en toe ons uiteindelik op ons drie geure besluit, staan ons met kwylende bekkies en wag vir ons duur bederfie.

Die dametjie agter die toonbank beleef egter nie ʼn goeie dag nie of sy is permanent ongeskik. Sy praat skaars en met daardie ronde opskeplepeltjie wat die mooiste roomballetjies behoort te vorm, kap sy soos ʼn reeksmoordenaar in die roomysbak en skuur dit met onaansienlike hale teen die plastiekkoppie af. Niks aan die proses is mooi nie. Nie die houding nie en nie die platgesmeerde hompe in die bakkie nie. My kwyl droog sommer op en ek wil amper snik.

Ons betaal en eet in stille tevredenheid, dog met ʼn mate van teleurstelling, aan die romerige lekkerte. ʼn Dag of twee later is ons weer lus. ʼn Ander dorp, ander geure en ons vra nederig hoopvol vir die verkoopsdame vir roomys. En wat ʼn plesier! Sy rol daardie lepeltjie met vrolike hale deur die roomys, plaas dit met oorgawe in die bakkies en versier dit verder met koekies en smarties sodat dit soos muise met ore lyk. Haar glimlag is so breed soos ons s’n. Dis mos hoe mens maak. Geniet jou werk, al is dit roomys skep. En jy kikker dalk net ʼn ongelukkige siel se hele ou ellendige dag op. Probeer dit. Jy sal jou eie dag ook opkikker met jou entoesiasme.