Mevrou Doeminie glimlag voort

Moenie dat die wêreld jou glimlag verander nie, verander die wêreld met jou glimlag, het iemand eendag gesê.

Hierdie waarheid het ek gesien toe ek onlangs deur Oos-Europa toer (Oostenryk, Hongarye, Tsjeggië, Slowakye.). Dis asof die koue van daardie lande in hulle harte gaan lê het. En ek was daar in ʼn lekker lente-tyd, toe die bome begin bot en die hele wêreld na suurlemoenbloeisels ruik. Heerlik. Die yskoue sneeuweer wat Europa nou al lank teister, het opgeklaar en ons het warm sonskynweer gehad, maar steeds het dit nie die glimlagte om die mense se monde laat ontdooi nie. Die pragtige ou geboue wat al vir honderde jare staan en al wat ʼn oorlog oorleef het, is nie genoeg om die mense se harte op te vrolik nie.

Iemand vertel my, nee, dis mos oor meeste van hulle ou Oos-bloklande is en nog nie lekker die toeriste en vreemdes vertrou nie. Aikona. Die lande is al vir jare lank as toeristebestemmings opgebou en staan glad nie ʼn tree terug vir die res van Europa nie. Daar is gastehuise, restaurante en besienswaardighede tot oorlopens toe. Dus is die mense selfs met die geld wat invloei steeds ongelukkige wesens.

Ja, maar die oorloë en buurlande wat mekaar stief behandel het hulle bot gemaak, sê ʼn ander ou. Ja, ja, ek verstaan, maar elke land in die wêreld is al deur ander lande aangeval, ingeneem, oorgeneem en kulture het vermeng en moeilike tye deurgemaak. Ons ook. Ek bedoel, jy gaan na ʼn restaurant, bestel kos en die kelner kyk jou skaars in die oë, wat nog te sê praat met jou? Ja, dalk is hulle Engels nie wat wonders nie, maar dit hoef niemand te keer om te glimlag nie.

Ek moet nou maar erken, ons Suid-Afrikaners (al die reënboogkleure) is ʼn vriendelike nasie. Ons is al deur ons eiesoortige probleme en ellendes platgeslaan, gesloop van menswaardigheid, gepynig en gespot. Maar steeds kry ons dit reg om te glimlag en om grappies te maak in ons soms ondraaglike omstandighede. Ek voel trots Suid-Afrikaans gevoel, al het ek my motorband afgeskryf die oomblik toe ek terug is en deur ʼn slaggat ry! Glimlag voort!

Vorige artikelVoltooi jou ooggrimering só
Volgende artikelOns vier 20 jaar!
Blogger - René van Zyl
René van Zyl is 'n oud-joernalis, skrywer (boeke, teater), blogger en kinderwerker. Sy skryf hoofsaaklik lekker interaktiewe kinderkerk materiaal, wat die Bybel van voor tot agter met geheueptrente of speletjies deurwerk. René is 'n regterbrein, buite-die-boks denker; getroud met 'n net so buite-die-boks predikant, Anton. Hulle het twee dogters, Michelle (21) en Chantal (18) en ’n breingestremde seun, Sean-Jacques (23). Hulle lang pad van trane, lag en genade het haar geleer om die lewe en sy reëls nie so ernstig op te neem nie. www.renevanzyl.blogspot.com www.bybelboekwurm.blogspot.com