Mevrou Doeminie is haastig en lastig

’n Mens hoor so baie jy moet vasbyt, of aanhouer wen of die Here het Sy tyd wanneer jy iets vra. Dit was nog altyd vir my ’n moeilike tameletjie om aan te kou.

Ek, en ek is seker die meeste mense wat hier lees, is haastig en wil dinge gedoen kry, elkeen met haar eie besige program en werk. Dis mos die siekte van ons tyd: alles moet vinnig en haastig gebeur: Bobbejaan klim die berg, so haastig en so lastig…. Ons wil dit alles nou hê, soos tweejariges wat ons voete stamp wanneer dinge nie volgens ons plan en skedule gaan nie.

Ek weet dis verkeerd om so gejaagd te wees, maar ek het al vir die Here gevra: Kyk, ek is ʼn mens met baie uitdagings in die lewe, soos my breingestremde 26-jarige seun wat min dinge vir homself kan doen – selfs bad en toilet moet ek mee help en aantrek en so baie ander dinge.

My twee dogters is uit die huis maar selfs hulle neem tyd op as hulle die dag my nodig het en my predikantman het my nodig met gemeentesake en wat nog alles. So, wanneer ek uiteindelik iets vir myself kan doen, soos om my boeke te skryf: iets wat ek al jare der jare met meer en minder sukses mee besig is, dan wil ek graag hê dat die Here vir my ʼn bietjie ekstra vinnige resultate gee.

Dis mos nie asof ek so baie tyd het vir boeke instuur vir die een uitgewer na die ander, die slegte kritiek wat ek terugkry en die herskryf en weer probeer. Dis erg, man. Ek vra altyd dat Hy my so ʼn bietjie voortrek, aangesien my pakkie wat Hy my gegee het so ʼn bietjie ekstra swaar is. Maar weet jy wat? Hy doen dit nie noodwendig soos ek wil nie maar soos Hy wil.

Ek moet steeds my as af werk, kry nie noodwendig die seëninge in my slaap soos Sy geliefdes doen nie. Ek kry soms skaars slaap in want daar is menopouse en hormone wat mal gaan en ʼn verbeelding vol stories wat my kop saans besig hou ensovoorts. Maar die Here doen wat Hy doen soos Hy dit doen op sy tyd. En dit, het ek geleer, is genade. Sy tyd is immers volmaak.