Mevrou Doeminie kerm oor lyding

Dis darem maar erg hoe baie dinge in die lewe nie altyd reg loop nie – daardie ou storie van slegte goed gebeur met goeie mense. HOEKOM!! Dis die ewige onbeantwoorde vraag.

Met my eie lewe het ek al hierdie vragie vrot geloop. Ons seuntjie van 15 maande kry ʼn breinvirus en die ou slap dingetjie wat ek uit die hospitaal uit huis toe bring, is maar ʼn skadu van my seuntjie. Ek huil, baklei, lag, veg voort om net te oorleef. En nou is dit al 24 jaar later en ek skop nog. En hy.

Ander mense gaan intussen deur hulle eie soort hel. Verloor ʼn kind. Moet veg teen kanker. Verloor alles en soek werk op hul oudag, veg depressie. Daar is soveel onregverdighede. Hoekom ek, vra mens? Net soos Job gedoen het. Vandag sien ek dat die pad wat ek geloop het my sterker gemaak het. Ek het God leer ken vir sy grootheid, sy Vaderlikheid, sy genade, sy liefde en sy almag. Ek het nog baie om te leer oor God. Hierdie pad van my is maar babatreetjies om ʼn onverstaanbare, onsienbare God te probeer verstaan.

As ʼn mens deur ou lande soos Europa toer en jy stap deur honderde mosbegroeide begraafplase met graffies van babas tot tieners en ou mense, dan weet jy dat verlies en hartseer deel van die lewe is. God het nêrens gesê dat ons dit gespaar gaan bly nie. Ons gaan nie hemel op aarde hê nie. Daardie mense van die ou dae het met plae, oorloë en hongersnood en slegte higiëne en gesondheidsorg gesukkel. Ons het soveel meer gerief in vandag se tyd om ons hoop te gee. O ja, nie eens die apostels wat Jesus se beste vriende was, is lyding gespaar nie. Almal het wreed gesterf, het ook nie altyd alles verstaan nie, maar is graf toe met ʼn loflied.  Hou vas aan die hoop, aan die geloof dat God vir ons almal alles ten goede laat meewerk. Dis al wat ons kan doen.