Mevrou Doeminie se jong self

Wat sou ek vir my onskuldige EK voor die kansel wou vertel, as ek haar kon beetkry (dalk maar goed ek kon nie.)

Liewe jonger ek, dis seker maar goed dat ʼn mens nie weet wat vir jou in die lewe voorlê nie. Jy het nou soveel drome van hoe jou lewe gaan wees, hoe jou huwelik en kinders gaan wees. Jy is opgewonde, paraat, reg vir alles en tog ook reg vir niks.

Ek wens ek kon jou vertel dat jy altyd gelukkig gaan wees, dat jou kinders gesond en volmaak gaan wees en dat jou man jou te alle tye op die hande gaan dra en bystaan. Niks hiervan is egter waar nie.

Gelukkig gee die Here ʼn mens seisoene om dinge oor te kom, te verwerk en weer op te staan. Natuurlik is daar tye wanneer alles net wonderlik gaan wees.

Daar kom egter tye wanneer jy by ʼn kind se siekbed sit en God nie jou gebede antwoord nie. Hy laat wel jou kind die erge siekte oorleef, maar jy gaan die res van jou lewe met ʼn breingestremde sit wat elke druppel energie uit jou gaan tap, elke droom van jou gaan vernietig en elke traan en druppel energie uit jou liggaam gaan wurg.

Jou man gaan jou op vele vlakke teleurstel – hierdie mens wat jy die liefste op aarde het, gaan jou die seerste maak van almal. Jou ander kinders gaan ook nie skotvry afkom sonder siektes en emosionele probleme nie.

Julle almal gaan hierdie mallemeule-rit moet deursien. Daar gaan baie huil wees, baie lag en baie genade, maar jy sal die positiewe en die humor moet insien, gaan soek en aangryp. Jy sal moet sterk wees vir jou kinders, jou man en jouself.

Jy sal moet vergewe en elke oggend opstaan. Jy gaan oorleef, glo my, jy gaan geestelik groei soos min ander mense om jou. Jy gaan leer wat is onvoorwaardelike liefde en vrede en wat dit is om God te vertrou al lyk dit soms of Hy nie omgee nie. Hy gee om. Hy is by jou. Hy dra jou.

Ek wens daar was ʼn makliker manier om hierdie lesse te leer. Daar is nie. Volwasse liefde, vertroue en totale afhanklikheid van God, kom ongelukkig net in so ʼn brose, breekbare pakkie. Weet net: Jy gaan dit maak. Jy en God.