Mevrou Doeminie stoei met die pad

Soms kan ’n mens jou hare uit jou kop uittrek want jy moet sekere lewenskeuses maak en jy weet wraggies nie hierdie kant toe of daardie kant toe nie.

Dis dan wanneer jy wens dat Jesus hier langs jou kan sit en jou mooi verduidelik wat elke keuse se uitkoms gaan wees. Ek ken rêrige-egte goeie Christene wat so naby aan Jesus se voete sit dat hulle sonder skroom vir jou kan sê wat Jesus wil hê hulle moet doen. Ek probeer sowaar, maar my verbeelding en logiese denke praat dikwels net so hard soos Jesus. Harder, eintlik.

En hoe baie gebeur dit nie? Die padtekens wys duidelik vir jou: Hierdie kant toe. Nee, daardie kant toe. Ag hemel tog. Dis te erg. EK sal bid en vra vir wysheid. Ek sal met goeie vriende met diepe insig praat. Ek sal in diepe angs die Bybel oopslaan en my vinger daarop druk en weer en weer, maar die antwoorde spring rond soos popcorn in die mikrogolf.

Oor die jare het ek geleer: Moenie te veel bekommer oor die absolute regte keuses nie. Ons is mos maar mens en foute maak ons heeltyd. Dit maak seker die lewe ’n groter avontuur. Al wat ek weet is dat God ons nie aan ons eie ellende oorlaat nie. Hy gee ons insig en keuses, daagliks. En hy sê dat Hy met ons is in ons keuses. Hy oordeel nie jou reg of verkeerd nie. Hy oordeel jou hart. Op daardie stadium was daardie keuse dalk vir jou reg en dalk draai dit horribaal uit. Of nie. Maar God het jou hand in syne. Hy stap die pad met jou. Met jou regte en verkeerde keuses. Jy sien nie die uiteindelike uitkoms nie, maar jy weet jy is veilig. Jy sal oorleef.  Dis asof ek hoor hoe Jesus sê: Don’t worry, I’ve got your back!