Mevrou Doeminie vra net niks

Kersfees is om die draai en alreeds wonder meeste mense met angs in hulle oë watse unieke geskenke koop ek vir my familie, werksmense, die hond en die kat.

Statistiek wys dat slegs 1% van kersgeskenke wat so lekker uitgedeel word na ses maande nog gebruik word. Huh? Jip. Almal is dalk op Kersdag vreeslik opgewonde oor die groot geskenk, maar na ʼn kort rukkie raak dit vervelig, in onbruik, verouderd (veral tegnologie), breek of word weggepak. Dink net ʼn bietjie aan die negatiewe impak wat hierdie reuse koop-manie oor die Feestyd op die planeet het. Skaars materiale word oor-ontgin, komplekse elektronika moet gebou word, die energie nodig vir al die vervaardiging, vervoer en verpakking is kolossaal. Die planeet krimp ineen en word stuk vir stuk vernietig deur elke simpel produk wat gemaak word. Neem in ag: woude wat vernietig word vir hartvormige houtkaasborde of snaakse items. Die vermorsing van energie, die koolstofdioksiedproduksie wat hiermee gepaard gaan en natuurlike hulpbronne wat vernietig word, sonder dat jy daarvan weet of omgee, is ʼn doodskoot vir ons planeet en dit word elke jaar erger.

Nee, jy help nie die armes met werkskepping met jou danige inkope nie. Ryker mense spandeer sonder ophou en vernietig ons kosbare planeet – en dit verminder die vooruitsigte vir almal op aarde – ryk en arm. Ons is almal uitgelewer aan adverteerders wat ons lok om enige onnodige gemors te koop. Dis tyd om standpunt in te neem vir die oorlewing van ons kosbare aarde.

Asseblief: vier Kersfees, maar kalmeer net. Moenie kyk of jou kinders die duurste X-box of selfoon in die buurt kan kry nie. Dit gaan oor Christus se liefde uitdeel (nie noodwendig met geskenke); liefde vir mekaar, die gesin, ander, ook die wat minder bevoorreg is en om te onthou dat een van ons groot opdragte was om die aarde te versorg en te onderhou. Kom ons wees ʼn seën vir mekaar en die aarde dié Feesseisoen: Kuier, geniet mekaar, maak lekker kos, bak ʼn koek, skryf ʼn gedig, ʼn brief, vertel grappies, maar ter wille van die Skepping en uit dankbaarheid teenoor ʼn God wat ons geskep het: hou op om die planeet te vernietig om iemand vir wie jy omgee te beïndruk. Al wat dit wys, is dat jy nie omgee nie.

Vorige artikelOor olie
Volgende artikelPampoene, spoke en hekse…
Blogger - René van Zyl
René van Zyl is 'n oud-joernalis, skrywer (boeke, teater), blogger en kinderwerker. Sy skryf hoofsaaklik lekker interaktiewe kinderkerk materiaal, wat die Bybel van voor tot agter met geheueptrente of speletjies deurwerk. René is 'n regterbrein, buite-die-boks denker; getroud met 'n net so buite-die-boks predikant, Anton. Hulle het twee dogters, Michelle (21) en Chantal (18) en ’n breingestremde seun, Sean-Jacques (23). Hulle lang pad van trane, lag en genade het haar geleer om die lewe en sy reëls nie so ernstig op te neem nie. www.renevanzyl.blogspot.com www.bybelboekwurm.blogspot.com