Mevrou Doeminie wonder oor die ander ou

Dis mos lekker om nie na jou eie ou troetelsondes te kyk nie, maar om rond te loer na die ander ou s’n.

Soms kom jy weg met die stelling: Die Here het my die gawe van onderskeiding gegee. Jy kruip weg agter die stelling, maar o, wraggies, dis nie so maklik nie. Sedert daardie ander tweetjies in die tuin van Eden gestoei het met die slang by daardie boom van kennis van goed en kwaad, worstel ons daagliks daarmee. Ons wil graag sê ons elkeen weet die verskil tussen goed/kwaad of reg/verkeerd. Ja, ons doen, volgens ons eie beperkte insig en opvoeding. Volgens ons eie eng idee van wat vir ʼn genadige God aanneemlik is of nie.

My hart pyn wanneer ek op facebook lees hoe iemand ʼn vrome Christelike stelling maak en hoe seergemaakte mense en ateïste met woede en pyn reageer omdat hulle deur veroordelende Christene getraumatiseer is. Ek praat van almal wat veroordeel word (volgens ons eie oningeligte en beperkte insig van God se groot liefde) – van die ergste moordenaars, drankmisbruikers, mense wat geld verduister, skinderbekke, gesinsopbrekers, boelies, vreemde kulture, ja, die gay gemeenskap, en gewone Christene wat daagliks foute maak soos veroordeling en hoogmoed – basies almal wat dinge doen wat ons dink God haat.

Waar het ons die bus gemis? Ons mag nie oordeel nie. Jesus self het nie gekom om te oordeel nie maar om vrede en liefde te bring in oorvloed. Dis al wat ons moet doen. Jesus het die prys betaal vir elke sonde van JOU en almal. Die wat jy gedoen het en gaan doen. Niemand is sonder sonde nie – ook nie jy wat ander veroordeel nie. Jy hoef niks goed te keur wat ander doen nie. Moenie oordeel nie. Moenie worry oor die ander ou nie. Gee hom God se liefde, vrede en aanvaarding en kyk hoeveel vrede kry jy!

Toe Petrus vir Jesus voor sy hemelvaart vra wat gaan van die ander dissipel, Johannes word, het Jesus gesê: Wat gaan dit jou aan? Volg jý my.