Mevrou Doeminie wonder oor VRESE en VREDE

Ek luister dikwels hoe baie Christene oor hulle vrese praat – en dit sommer oor die kleinste, simpelste goetertjies. Vir wat het ons so baie vrese – ons wat ʼn Lewende God aanbid?

Het Jesus nie gesê hy bring VREDE en dit in oorvloed nie? Nie vrese nie. Waar het daardie S en die D mekaar vervang en hoekom? (Vrese se S laat mens hoeka aan ʼn klein slangetjie dink!)

Ek hoor weer hoe iemand by die kerk sê dat hierdie paashaas gemors en paaseiers wegsteek net ʼn foefie is om ons aandag van die regte rede vir Paasfees af te trek. Dis kwansuis demonies en ons moet dit nie in ons kinders aanwakker deur paaseiers te koop en weg te steek nie. Wel, my beste kinderdae-herinneringe was die soek en vind van paaseiers. Dit en die familiekuiers wat daarmee saam gegaan het, want dit was immers langnaweek.

Ek soek altyd eerder die positiewe in ʼn situasie of ʼn gebruik as om die lelike of negatiewe te soek. Dalk is dit ʼn gawe of dalk net ʼn vreedsame lewensuitkyk. Dit maak my moeg as mense net negatiewe betekenisse in als soek. Ek leer die kinders by ons kinderkerk oor paaseiers. ʼn Eier is amper soos God. Dit bring lewe aan die een kant en aan die ander kant bestaan dit ook uit drie dele: wit, geel en die dop. Dit laat ons dink aan God Drie-eenheid. God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Min grootmense verstaan die konsep blykbaar, so ek wil hê die kinders moet van kleins af dit reg verstaan. En God se koninkryk is soos ʼn skat: Soek dit en as jy dit vind, bring dit groot vreugde. Maklik nè? Niks aan ʼn eier om te vrees nie.

Net soos ʼn kersboom wat party angsbevange mense so haat. Blykbaar buig jy voor ʼn afgod wanneer jy die geskenke daaronder optel. Regtigwaar? ʼn Boom is ʼn simbool in die Bybel wat met God geassosieer word. Dis lewe. Dis groei. Dit bring lewe en vrug voort en dit bied skuiling vir mense en diere. Sien dit eerder so, asseblief tog, man. Los die vrese vir die duiwel en soek God in elke situasie.

Jesus het immers kom sê: Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. Johannes 14:27.